13 Skole afgebrand die week – Stamgevegte dryf glo skoolafbrandery

Skole afbrand

Gerugte oor stamgevegte tussen Vendas en Tsongas in Noord-Transvaal word nou versprei oor die afbrand van skole in die Vuwami-gebied.

Die grootskaalse verwoesting in die gebied handel glo daaroor dat die inwoners van Vuwami (meestal Vendas) nie by Malamulele (hoofsaaklik Tsongas) se munisipaliteit ingelyf wil word nie.

Miljoene rande se skade is al aangerig sedert die amokmakers met hulle verwoesting begin het.

Alles is glo ontketen deur ‘n hofuitspraak ingevolge waarvan beslis is dat daar nie voldoende gronde is waarom Vuwami se inwoners nie deel moet wees van ‘n nuwe munisipaliteit nie.

Die Munisipale Afbakeningsraad het verlede jaar aangekondig Vuwani en Malamulele gaan in een munisipaliteit saamgevoeg word. 

Vuwami wil eerder deel bly van die Louis Trichard munisipaliteit.

 Bron: Vryburger

Altesaam 13 skole in die Vuwani-streek van Limpopo is sedert Sondag afgebrand deur booswigte wat nie deel wil wees van ’n nuwe munisipaliteit nie.

Duisende leerlinge van sowat 50 skole in die gebied kan weens die geweld nie skool bywoon nie. Diegene wat skool wil bywoon, word deur oproerige belhamels geïntimideer.

Lt.kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê nege skole is Dinsdagaand aan die brand gesteek.

“Sedert Sondag is 13 skole heeltemal in brande verwoes. Nóg drie skole is gedeeltelik deur brande beskadig,” het Ledwaba gesê.

Verskeie groot vragmotors wat aan die departement van openbare werke in Limpopo en aan die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt behoort, is ook aan die brand gesteek.

Vandale het ook ’n satellietpolisiekantoor in die Mashau-gebied en ’n poskantoor naby Levubu aan die brand gesteek.

Die geweld in Vuwani het Sondag uitgebreek nadat die hooggeregshof in Limpopo Vrydag beslis het inwoners het nie grondige redes om die nuwe munisipale afbakenings teen te gaan nie.

Paaie in die gebied, sowat 150 km noordoos van Polokwane, is met groot klippe versper. Oproeriges verhoed voertuie om in of uit die gebied te ry.

Vuwani is nou deel van die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt. Luidens die voorgestelde nuwe munisipale afbakenings gaan Vuwani ná die verkiesing deel wees van ’n nuwe munisipaliteit wat ook Malamulele sal insluit.

Dr. Naledzani Rasila, woordvoerder van die onderwysdepartement in Limpopo, het by inwoners gepleit om leerlinge toe te laat om skool by te woon.

Phuti Seloba, woordvoerder van die Limpopo- provinsiale regering, het die geweld veroordeel.

“Die afbrand van skole was nog nooit en sal nooit revolusionêr wees nie,” het hy gesê.

Die geweld in Vuwani kom ’n week nadat pres. Jacob Zuma in Giyani tydens Vryheidsdagvieringe gesê het mense moenie hul ontevredenheid wys deur skole, geboue, voertuie en treine af te brand nie.

Hy het gesê die regering sal nié skole wat afgebrand word prioritiseer om herstel te word nie.

Stan Mathabatha, premier van Limpopo, het gesê daar is reeds ’n ernstige geldtekort om skole te herstel.

Bron: News24

Enjoyed this post? Share it!