2 sterf in geweldpleging in ooste van Pretoria

Twee mense is Sondagmiddag in ’n informele nedersetting in die ooste van Pretoria dood nadat ’n groep Zimbabwiërs inwoners glo aangeval het.

Paramedici van Netcare911 is Sondag omstreeks 16:15 na die informele nedersetting Plastic View ontbied.

Lesotho-burgers is glo deur Zimbabwiërs aangeval terwyl hulle sokker gespeel het, het kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, Maandagoggend aan eNCA gesê.

Volgens Chris Botha, Netcare911-woordvoerder, het sewe Lesotho-burgers steekwonde opgedoen.

“Ses het ligte tot ernstige beserings opgedoen en een man in sy twintigs was in ’n kritieke toestand. Hy is later in die hospitaal dood,” sê Botha.

Volgens Weilbach is ’n tweede oorledene later Sondagaand in Plastic View gevind.

Ooggetuies het aan Netcare911 op die toneel gesê daar is nog vier mense in die nedersetting dood, maar volgens Botha het inwoners paramedici verhoed om die gebied verder binne te gaan.

“Hulle het die paramedici met stokke en pangas gekeer.”

Weilbach sê die situasie was teen laat Sondagaand onder beheer en omliggende woonbuurte is veilig.

Die saak word verder ondersoek en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Bron – Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!