2 Wit Leeus se koppe en pote afgekap

Twee wit leeus is Donderdagaand met Temik, ’n plaagdoder, op ’n plaas naby Stockpoort in die Lephalale-omgewing vergiftig, onthoof en hul pote afgesny.

Volgens Ben Engelbrecht, spoorsnyer van die Heritage Protection Group, was daar nog stukke vergiftigde vleis waar die leeus gelê het toe hulle Vrydagoggend op die toneel aankom. Hy het gesê dis die eerste keer wat hulle sien dat so iets aan ’n leeu gedoen word. “Dis nuut vir ons, hoor. Dis die eerste keer dat dit in ons omgewing gebeur.”

Engelbrecht is onseker waarom die stropers die koppe en pote sou gevat het en glo dit kan vir moeti of medisyne wees, of die tande en naels kan vir ornamente gebruik word.

Hy glo nie die stropers het oor die grens met Botswana gekom nie, omdat hulle oos beweeg het. Die spore het by die R510-teerpad tussen Lephalale en Groblersbrug doodgeloop.

Die polisie en Lephalale se gemeenskapspolisiëringsforum het die toneel ondersoek.

Bron – netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!