2018 is die jaar van die Republiekvlag, van toeka tot nou

Na aanleiding van die Nelson Mandela Stigting se “vraag” of dit nie tyd geword het dat die Republiekvlag verbied moet word nie, het die leier van die HNP, mnr. Andries Breytenbach, ‘n beroep gedoen dat die vlag volgende jaar, wanneer dit 90 jaar gelede sal wees dat hy gehys is, landswyd vertoon moet word.

Mnr. Breytenbach het daarop gewys dat daar al meer geluide opgestuur word dat die ou Republiekvlag verban moet word. “Hulle haat ons, maar hoor net die huigelary: ‘dit skep ‘n gevoel van ‘ons’ en ‘julle’”.

“Die aanhangers van die heersende bedeling en hul sogenaamde ‘reënboognasie’ moet kennis neem: Ons is nie deel van julle nie: nie nou nie en ook nooit nie. Die ou vlag is vir ons ‘n simbool van orde, beskawing, vooruitgang, vryheid, respek vir kulturele verskille, ‘n Christelike bestel. Die vlag wat julle op ons afdwing, is ‘n simbool van verdrukking, moord, wanorde, verval, kultuurvertrapping, rassehaat, ‘n antichristelike bestel.

“Volgende jaar op 31 Mei sal dit presies 90 jaar gelede wees dat die Oranje-blanje-blou die eerste keer as eie vlag van Suid-Afrika gehys is. Tot op daardie tydstip moes ons buig onder die imperialistiese Union Jack. Die vlag was die simbool van verwerping van die Britse imperialisme. Met republiekwording in 1961 is dié vlag behou.

“Die stryd teen die kommunisme is onder dié vlag geveg en onder die gewapper daarvan het ons soldate roem verwerf. Ons mag nie toelaat dat hulle nog ‘n stuk van ons geskiedenis uitwis nie.

“Laat ons die geleentheid volgende jaar luisterryk herdenk en daardie vlag landswyd vertoon!” sê mnr. Breytenbach


Enjoyed this post? Share it!