22ste Plaasaanval Vrydag aand in die Vrystaat alleen

Bloemfontein.– “Ons sou nie ’n kans gehad het as hier ’n vuurwapen was nie. Hulle sou ons met ons eie vuurwapen doodgeskiet het,” sê ’n boer van die Memel-distrik wat Vrydagnag ernstig beseer is in die 22ste plaasaanval in die Vrystaat vanjaar.

Bertus van Wyk (68) en sy vrou, Trudie (63), van die plaas Christina naby die Mont Pilaan-veilingskrale is met ernstige beserings in die hospitaal in Newcastle in KwaZulu-Natal nadat hulle wreed met staalsparre aangeval is.

Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat en buurman van die Van Wyks, het hulle gister in die hospitaal besoek.

Hy sê die egpaar is erg geskok en net dankbaar dat hulle nie ’n vuurwapen in die huis gehad het nie.

“Ek het hulle beloof dat ek nie sal rus voordat die skuldiges aan die man gebring is nie.

BOERE HET VAN SO VER AS VILLIERS, VREDE, HARRISMITH EN NORMANDINE IN NATAL GEKOM OM TE KOM HELP. PAAIE IS GESLUIT, MAAR DIT WAS REEDS TE LAAT.

“Ons gaan druk op die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Butana Khompela, plaas om so gou moontlik ’n taakspan vir die ondersoek saam te stel omdat dit teleurstellend is dat dit nog nie gebeur het nie.

“Die VF Plus gaan ook ’n speurder aanstel om die polisie met die ondersoek te help,” het hy gesê.

Ilze Oosthuizen, dogter van die Van Wyks, het gister gesê haar ouers het baie seergekry en verduur erge pyn.

Tog sal hulle moontlik vandag al uit die hospitaal ontslaan kan word.

Kobie Roux, ’n vriend van die Van Wyks, het vertel die Van Wyks het albei ernstige kopwonde opgedoen wat met steke geheg moes word.

“Bertus het ook wonde aan die arms opgedoen en sy gesig was potplou geslaan. Trudie se hele bolyf en kop is potblou geslaan.”

Roux het gesê die twee aanvallers het met die Van Wyks se silwer Mazda-dubbelkajuitbakkie, registrasienommer DPN 531 FS, hul twee selfone, skootrekenaar asook R3 000 gevlug.

Van Niekerk het gesê die voorval het Vrydagaand om 23:30 gebeur toe twee inbrekers deur die venster van ’n gastekamer by die Van Wyks se huis in is nadat hulle ’n ruit uitgebreek het.

“Hulle het oom Bertus en tannie Trudie met staalsparre toegetakel.

“Oom Bertus het in ’n stadium sy bewussyn verloor, maar weer bygekom en ander boere van ’n veiligheidsnetwerk oor die radio geroep.

“Boere het van so ver as Villiers, Vrede, Harrismith en Normandine in Natal gekom om te kom help. Paaie is gesluit, maar dit was reeds te laat.”

Hy sê daar kon vasgestel word dat die aanvallers van Harri­smith af ’n oproep op een van die twee gesteelde selfone gemaak het. Op Newcastle is drie keer geld uit die kitsbankrekenings van die Van Wyks onttrek.

Van Niekerk sê dit was die derde plaasaanval in ’n kort tyd in die Harrismith/Warden-distrik.

  • Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
  • Bron: Netwerk24

 

Enjoyed this post? Share it!