23 In arres nadat nog ‘n skool in Vuvani afgebrand is

Skole afbrand23 in arres nadat nog ’n skool in Vuwani afgebrand is

Dié waarskuwing van Vuwani-inwoner het die afbrand van nóg ’n skool in die Vuwani-gebied in Limpopo Saterdagoggend voorafgegaan.

Ondanks die verhoogde polisieteenwoordigheid in die gebied het die polisie die jongste voorval bevestig.

Kol. Malesala Ledwaba, ’n polisiewoordvoerder, het gesê ’n skool wat vantevore deur betogers beskadig is, is Saterdagoggend aan die brand gesteek.

“Altesame 24 skole het die laaste tyd deurgeloop: 20 is afgebrand en vier is beskadig,” het hy gesê.

Ledwaba het gesê die polisie het 23 verdagtes in hegtenis geneem in verband met die jongste voorval.

Die mense van Vuwani is ontsteld omdat die hooggeregshof in Polokwane ’n week gelede beslis het hulle het nie grondige redes om die nuwe munisipale afbakening in hul gebied teen te gaan nie.

Die uitgestrekte beboste gebied, sowat 150 km noordoos van Polokwane, gaan ná die munisipale verkiesing saam met Malamulele in ’n nuwe munisipaliteit ingelyf word.

Vuwani is tans deel van die Makhado-munisipaliteit in ­Louis Trichardt.

Koning Toni Mpephu Ramabulana van die Vendas het Vrydag gesê hy steun sy mense.

Hy het gesê ’n politieke oplossing is nodig om die verwoesting van skole te keer.

Ledwaba het gesê polisie-eenhede is op die toneel in Vuwani en nog inhegtenisnemings word verwag. – News24 

Enjoyed this post? Share it!