25 miljoen hektaar landbougrond in swart boere se besit

Swart besit van landbougrond het sedert 1994 met 26,7% toegeneem.

Dit blyk uit Agri Developments Solutions se nuutste oudit van oordrag van landbougrond, en bevestig TLU SA se stelling lank gelede reeds dat blankes nie meer die hoeveelheid grond besit wat die regering wil glo nie.

Die grondoudit meld egter nie hoeveel grond die staat besit nie en daar is ook geen verslag oor die sukses van sogenaamde agtergeblewe boere nie.

VF Plus sê dat hierdie onafhanklike oudit van grondbesit in Suid-Afrika vernietig die populistiese mite dat wittes tagtig persent van grond besit.

Dr. Pieter Groenewald, dié party se leier, sê die belangrikste bevinding is dat kommersiële landbougrond buiten die tuislande in die besit van wit boere sedert 1993 van 67% van die totale oppervlakte van Suid-Afrika afgeneem het tot 55% 2016.

Teen verlede jaar het mense van kleur bykans ʼn derde van die waarde van landbougrond in die land besit, en sowat die helfte van alle hoëpotensiaal-landbougrond (46,5%).

In 1994 het wittes altesame 85,1% landbougrond besit. Dit het teen 2016 afgeneem tot 73,3% en eienaars van kleur besit nou 26,7%. Dié 26,7% sluit egter bykans die helfte van die land se beste, of hoëpotensiaal-landbougrond in.

In Natal, die Oos-Kaap en Noord-Transvaal is meer as 50% van die grondwaarde tans in mense van kleur se besit.

Dr. Groenewald sê ʼn kommerwekkende aspek in die oudit is die bevinding dat die regering tot dusver grootliks grond wat hy reeds in 1994 besit het, gebruik het om grondhervorming te bewerkstellig.

“Wat hierdie oudit veral waardevol maak is die feit dat die staat se oudit nou hieraan gemeet kan word om sodoende te verseker die ware feite rondom grondbesit word op die tafel geplaas,” sê dr. Groenewald.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!