31 Mei, ʼn besondere dag in Suid-Afrika se geskiedenis

31-mei

Hierdie foto is geneem op 31 Mei 1961 op Kerkplein om 12:00, oomblikke nadat Suid-Afrika formeel ‘n Republiek geword het. Foto: FAK/Afrikanergeskiedenis.co.za

Meimaand begin met ʼn amptelike vakansiedag wat eintlik nie een behoort te wees nie (sien my plasing van 2 Mei) en eindig met ʼn dag wat nie ʼn vakansiedag is nie, maar vir Suid-Afrika en die Afrikaner baie meer beteken as 1 Mei.

31 Mei is ʼn dag waarop staatkundige sleutelgebeure plaasgevind het toe Suid-Afrika van een bedeling na ʼn ander een beweeg het. Vir die Afrikaner spesifiek word die dag met neerlaag sowel as oorwinning vereenselwig.

31 Mei 1902 markeer die einde van die Tweede Vryheidsoorlog met die Vrede van Vereniging. Vir die Boereleiers wat die vryheid van die twee Boererepublieke, Transvaal (ZAR) en Oranje-Vrystaat, moes wegteken, was dit ʼn bitter pil om te sluk om ná heldhaftige weerstand teen die magtige Brittanje uiteindelik die knie te moes buig. Die prys wat veral die vroue en kinders in die konsentrasiekampe moes betaal, was eenvoudig te hoog om met die oorlog te kon aangaan. Dié dag staan vir die einde van die onafhanklike Boererepublieke en die begin van Brittanje se totale beheer oor die hele Suid-Afrika. Gelukkig vir die Boere het daar by die oorwinnaars nugterheid en pragmatisme geseëvier teenoor die drang na totale uitwissing, en die Boere (of Afrikaners, soos hulle meer en meer bekend gestaan het) is betrek by die proses om ʼn nuwe bedeling wat die Afrikaners en Engelssprekendes (onder die Britse oppergesag) sou akkommodeer.

31 Mei 1910 was die volgende sleuteldatum, toe die Unie van Suid-Afrika ontstaan het. Die twee Britse kolonies, Kaapland en Natal, en die twee voormalige Boererepublieke is tot ʼn unie met dominiumstatus (selfbestuur) binne die Britse statebond saamgevoeg. Die Afrikaners het gelyke stemreg met die Engelssprekendes gehad (mense van kleur het ʼn beperkte stemreg in die twee voormalige Britse kolonies gehad) wat aan hulle die geleentheid tot politieke invloedname gegee het, en die eerste Eerste Minister was selfs ʼn voormalige Boeregeneraal en Bittereinder, Louis Botha, wat egter pro-Brits ingestel was.

Geleidelik het die Afrikaners egter vir hul politiese regte binne die raamwerk van die unie geveg en kon erkenning vir hul taal en vir hul simbole op gelyke vlak met die Engelse taal en Britse simbole beding word. ʼn Belangrike mylpaal was 31 Mei 1928 toe daar onder die regering van die Afrikaner-nasionalis, genl. JBM Hertzog, ʼn eie Suid-Afrikaanse vlag (die Unievlag – later die Republiekvlag, wat tot 1994 Suid-Afrika se vlag was) bekend gestel is. Ook ʼn eie Suid-Afrikaanse Volkslied, in Afrikaans sowel as Engels, “die Stem”, is op daardie dag bekend gestel. Suid-Afrika was nou sterk op pad na groter selfstandigheid en het die Britse bande losser gemaak. Suid-Afrika was nog ʼn unie en deel van die Britse Statebond, maar dit was ʼn land waar die Afrikaner meer en meer die lotgevalle bepaal het.

Die proses wat Hertzog begin het, is veral ná die magsoorname deur die (Herenigde) Nasionale Party in 1948 volstoom voortgesit. Die hoogtepunt van die proses was 31 Mei 1961, toe Suid-Afrika ʼn republiek geword het en die Britse Statebond verlaat het. Dit het gevolg ná ʼn referendum in 1960, uitgeroep deur die Eerste Minister, HF Verwoerd, toe ʼn klein meerderheid vir die republiek gestem het. Daarmee is alle oorblywende Britse bande verbreek en Britse simbole verwyder. Die goewerneur-generaal, as verteenwoordiger van die Britse koningin, is deur ʼn staatspresident, CR Swart, vervang. Ook ʼn eie geldeenheid, die Suid-Afrikaanse Rand, het die Britse Pond vervang. Anders as wat doemprofete destyds voorspel het, was Suid-Afrika sonder die Britse bande ekonomies besonder voorspoedig en polities besonder eensgesind (altans wat die wit gedeelte van die bevolking betref het). Dié dag markeer die oorgang na ʼn nuwe staatkundige bedeling ná meer as 50 jaar van die unie. Die dag het voortaan ʼn openbare vakansiedag geword en as “Republiekdag” bekend gestaan waarop die totstandkoming van die republiek onder die Nasionale Party en die Afrikaner se leiding elke jaar herdenk is.

Ná die magsoorname deur die ANC in April 1994, wat ook ʼn hele nuwe bedeling ingelui het, weg van ‘n wit minderheids- na ʼn swart meerderheidsregering, het Suid-Afrika op 31 Mei 1994 die uittrede uit die Britse Statebond in 1961 ongedaan gemaak en weer tot dié liggaam toegetree. Suid-Afrika het egter ʼn republiek gebly en nie weer die Britse koningin as staatshoof aanvaar nie.  “Republiekdag” was egter nie meer ʼn vakansiedag nie, omdat dit te nou met die NP-bewind geassosieer is. Die hertoetrede tot die Statebond moet gesien word in die lig van die “einde van isolasie” en die aansluiting by soveel internasionale organisasies as moontlik. Die Statebond het ook verander van ʼn Brits gedomineerde liggaam van voormalige Britse kolonies na ʼn liggaam van gelyke, hoofsaaklik Engelssprekende state (insluitende selfs state soos Mosambiek, Ruanda en Kameroen wat nooit Britse kolonies was nie). Op 31 Mei 1994 was Suid-Afrika reeds ʼn maand in die nuwe bedeling in, maar die hertoetrede tot die Statebond was ʼn verdere mylpaal om die NP-bewind en die “ou Suid-Afrika” ongedaan te maak, 33 jaar ná Republiekwording.

Hou dus maar daardie dag 31 Mei dop. Dalk gebeur daar vorentoe weer ʼn rigtinggewende staatkundige verandering. Terloops, terwyl dit in Suid-Afrika geen openbare vakansiedag meer is nie, word daar in Orania op 31 Mei “Bittereinderdag” gevier, waar die lyding van die vroue en kinders en die heldhaftige verset van die Bittereinders herdenk word, en wat weer aansluit by die heel eerste 31ste Mei van 1902.

Enjoyed this post? Share it!