3,5 miljoen mense dra 93% van SA se belastinglas

Paul Joubert, senior navorser van Solidariteit se Navorsingsinstituut, sê in die vakbond se Arbeidsmagrapport, wat Donderdag uitgereik is, dat die tesourie graag spog met die styging in die aantal mense wat vir belasting geregistreer is.

In der waarheid betaal 48% van die 16,8 miljoen mense op die belastingregister “nie ’n sent” belasting nie omdat hul inkomste onder die drempel vir inkomstebelasting is.

 Die las op die 7,1 miljoen belastingbetalers is ook nie eweredig versprei nie, sê hy.

Die SAID het in 2014 R310,9 miljard inkomstebelasting ingevoer.

Mense met ’n belasbare inkomste van minder as R140 000 per jaar het minder as 4% van hul inkomste aan belasting afgestaan.

Hulle verteenwoordig 3,6 miljoen mense en het in totaal minder as 7% van die inkomstebelasting wat die SAID ingevorder het, betaal.

Daarteenoor het mense met ’n belasbare inkomste van meer as R140 000 gemiddeld 21,5% van hul inkomste aan inkomstebelasting betaal.

Hulle is 3,5 miljoen mense en het sowat 93% van alle inkomstebelasting betaal.

As jy die afsnypunt R200 000 per jaar maak, betaal 2,4 miljoen mense 85% van alle inkomstebelasting.

DIE BENADERING VAN HOËR BELASTING OP ’N KLEIN GROEPIE MENSE IS TEENPRODUKTIEF, AANGESIEN DIT JUIS DIEGENE WAT DAARTOE IN STAAT IS OM WAARDE TE SKEP, ONTMOEDIG OM DIT WEL TE DOEN.

Op R300 000 per jaar bly 1,7 miljoen belastingbetalers oor wat 76% van alle inkomstebelasting betaal.

Die 1,7 miljoen wat meer as R300 000 per jaar verdien, is net een uit elke 20 volwasse Suid-Afrikaners

Die 3,5 miljoen wat meer as R140 000 per jaar verdien, is steeds net een uit elke tien volwassenes.

Solidariteit kap in sy Arbeidsmarkrapport die sogenaamde “belastingverligting” wat Pravin Gordhan, minister van finansies, in Februarie in sy begrotingsrede uitgelig het.

Jy kry eintlik slegs verligting as jy armer word, sê Joubert. Solidariteit se berekeninge wys as jou salarisverhoging tred hou met inflasie, betaal jy wesentlik meer belasting elke jaar – nie net die bedrag nie, maar die persentasie wat jy opdok.

Solidariteit kap ook die belastingstelsel in geheel.

“Om dié klein groep mense wat vir hulself kan sorg toe te laat om deur vrye ondernemerskap te vermeerder, behoort die regering se prioriteit te wees, nie ’n onvolhoubare herverdelingsbeleid wat die meeste mense deur staatsbesteding van belastingbetalers afhanklik hou nie.

“Die benadering van hoër belasting op ’n klein groepie mense is teenproduktief, aangesien dit juis diegene wat daartoe in staat is om waarde te skep, ontmoedig om dit wel te doen. Dit kniehalter ekonomiese vooruitgang, waarsonder maatskaplike opheffing en vooruitgang slegs leë politieke beloftes sal bly.

Bron Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!