3 regspanne gereed om SABC-6 te verdedig

3 regspanne gereed om SABC-6 te verdedig
 Drie regspanne staan Vrydag gereed om die SABC-ses by twee tugsake en in die arbeidshof te verdedig.

Twee regspanne van die vakbond Solidariteit gaan eers by die SABC se hoofkantoor in Aucklandpark vra dat twee aparte tugsake teen die ses SABC-joernaliste uitgestel word.

Indien die voorsittende beamptes van die onderskeie tugsake dié versoek weier, sal ’n derde regspan by die arbeidshof in Braamfontein ’n dringende aansoek indien om verrigtinge te keer.

 Solidariteit sou Donderdagaand met adv. Nazeer Cassim SC konsulteer.

Die tugsake begin om 09:00, op presies dieselfde tyd as wat die beplande protesoptog teen SABC-sensuur sou begin. Die geskorste joernaliste Foeta Krige, Suna Venter en Thandeka Gqubule was veronderstel om vooraan te loop.

Krige, Venter en Gqubule, asook hul kollegas Jacques Steenkamp, Krivani Pillay en Busi Ntuli, is Donderdagoggend in kennis gestel hul tugsake begin Vrydag.

Die tweede groep joernaliste word getug omdat hulle glo ’n brief wat hulle aan Hlaudi Motsoeneng, SABC-bedryfshoof, gestuur het aan die media “gelek” het.

Netwerk24-beriggewing word in die klagte genoem as bewys daarvan. Hulle maak in die brief beswaar teen sensuur.

Volgens Dirk Hermann, Solidariteit-bedryfshoof, is die klagtes teen Krige, Venter en Gqubule “vreemd”.

“Dit sê die drie het hulself na bewering en kategories van die opdrag om nie ’n betoging te dek nie gedistansieer.

“Dit gaan vir die SABC dus nie nie oor die uitvoering of die nie-uitvoering van daardie opdrag nie, dit gaan daaroor dat hulle hulself nie daarmee vereenselwig het nie.”

Solidariteit het Donderdag ’n brief aan die SABC gestuur waarin die uitsaaier versoek is om die tugsake teen die ses joernaliste uit te stel. Die uitsaaier het kort na 17:00 gesê die tugsake gaan voort, maar Solidariteit mag namens die ses argumenteer waarom dit nie moet voortgaan nie.

“Ons gaan die tugkomitees vra om die sake uit te stel tot die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) uitsluitsel oor die geldigheid van

Motsoeneng se opdrag gee dat gewelddadige betogings nié gedek mag word nie,” sê Hermann.

“Die kennisgewingperiode is ook net 22 uur, terwyl die minimum tydperk volgens SABC-regulasies 24 uur is. Die ses joernaliste kon hulself onmoontlik in daardie tyd genoegsaam voorberei.

“Ek was al by baie arbeidsgeskille betrokke, en die minimum 24 uur is die kortste wat ek nog ooit van gehoor het.”

Die ses se voorbereiding is voorts bemoeilik deur die feit dat die SABC hul toegangskaarte tot die SABC-gebou afgevat het sodat hulle dit nie kan betree nie én hulle verbied het om met kollegas kontak te maak. “Dit maak dit vir hulle feitlik onmoontlik om ’n verdediging saam te stel.”

Die aangeklaagdes mag ook nie regsverteenwoordiging by hul hê nie en hoewel dit nie abnormale praktyk is nie, sê Hermann grondwetlike kwessies gaan ter tafel gelê word.

“Dis kritiek belangrik dat hulle regsverteenwoordiging het. Ons is oortuig die opdrag was onwettig, derhalwe sal pertinente regskwessies ter sprake kom.

“Die joernaliste het nie eers toegang tot kollegas om vir hulle as getuies op te tree nie, laat staan nog tyd om hiervoor voor te berei,” sê Hermann.

Intussen heers daar vrees en angs in die gange van die uitsaaigebou. Baie joernaliste is vrees vir hul geskorste kollegas se toekoms, terwyl hulle ook bang is

Motsoeneng se greep op die uitsaaier word stewiger.

Daar is ook vrese dat nóg skorsings op pad is en dat bekende programme en aanbieders volgende in die visier is.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!