4 hof toe oor plaasaanval

ALHOEWEL DIT DIE EERSTE PLAASAANVAL IN BRANDFORT IN ’N LANG TYD IS, WAS DAAR VANJAAR REEDS MEER AS 30 PLAASAANVALLE IN DIE VRYSTAAT.

Vier vermeende plaasaanvallers wat na bewering op ’n 70-jarige boer geskiet het, verskyn Woensdag in die hof in Brandfort.

Hulle is Maandagoggend in hegtenis geneem nadat hulle gevlug het toe die boer teruggeskiet en hul makker noodlottig gewond het.

Hulle sal op aanklagte van poging tot moord en poging om te roof verskyn, sê kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke.

Carl Gutter (70) van die plaas Palmietfontein was 7:00 die oggend in sy bakkie en wou net ry toe die rowers toeslaan.

Een van hulle het aan Gutter se venster geklop. Hy het by die passasiersitplek van die bakkie uitgevlug, waarna die rowers op hom losgebrand het. Gutter het teruggeskiet en een van die rowers in die rug getref. Die ander vier aanvallers het gevlug en is deur boere en die polisie aangekeer.

Die 31-jarige gewonde man is onderweg na die hospitaal dood.

Alhoewel dit die eerste plaasaanval in Brandfort in ’n lang tyd is, was daar vanjaar reeds meer as 30 plaasaanvalle in die Vrystaat. Volgens Vrystaat Landbou (VL) en VKB se veiligheidslessenaar was daar vanjaar reeds 34 plaasaanvalle in die Vrystaat waarin vyf mense vermoor is.

Die syfers dui op ’n afname in plaasaanvalle teenoor dieselfde tyd verlede jaar, toe 43 aanvalle aangemeld is. In dié tydperk is ses mense vermoor, teenoor vyf vanjaar.

Vier plaaswerkers en een boer is vanjaar in aanvalle op plase in Rouxville, Harrismith, Kroonstad en Thaba Nchu dood.

Die meeste van die voorvalle (13) het in die noorde van die provinsie voorgekom, gevolg deur die Suid- en Oos-Vrystaat met onderskeidelik 11 en 10 aanvalle. In die Bloemfontein-distrik het ses aanvalle plaasgevind, en by Ficksburg drie.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!