42 Lyke op Johannesburgse snelweg eers ná 7 ure na staatslykshuis vervoer

Die oorskot van 42 mense op ’n sleepwa wat Woensdag op die besige M1-snelweg in Johannesburg onklaar geraak het, is sowat sewe uur later eers na die staatslykhuis gebring.

Lesemang Matuka, waarnemende woordvoerder van die departement van gesondheid, het omstreeks 17:00 bevestig dat die pad gedeeltelik vir verkeer oopgestel is.

“Ons moes alternatiewe vervoer reël en was daarvoor aangewes op die departement se patologiese dienste,” sê Matuka.

Hy het bevestig die eienaar van die voertuig is deur die departement aangestel. ’n Volledige ondersoek sal egter gedoen word om te bepaal of die lyke op ’n gepaste wyse vervoer is.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), sê daar was teen omstreeks 17:15 nog twee bane op die M1-suid gesluit terwyl opruimingswerk voortgegaan het.

Die oop sleepwa het die lyke van 16 volwassenes en 26 doodgebore babas van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Parktown na die Olifantsvlei-begraafplaas in Eldorado Park vervoer om daar begrawe te word.

Die sleepwa het tussen die Smit- en Carr-afrit onklaar geraak en verkeer ure lank vertraag.

Die bestuurder van die voertuig wat die sleepwa getrek het, het nie dokumente gehad wat bewys dat hy vir ’n geregistreerde lykshuis werk of dat die hospitaal goedkeuring gegee het dat hy die lyke mag verskuif nie.

Die JMPD is weens die verkeersopeenhoping na die toneel ontbied en was geskok om op die lyke af te kom. ’n Besluit is gevolglik geneem om die snelweg onmiddellik vir verkeer te sluit.

Die JMPD het daarna die eienaar van die begrafnisonderneming gevra om die dokumente te verskaf.

Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid van die Johannesburg-metro, sê dit het ’n tydjie geneem om die betrokke dokumente te kry.

“Die JMPD is weens die verkeersopeenhoping na die toneel ontbied en was geskok om op die lyke af te kom. ’n Besluit is gevolglik geneem om die snelweg onmiddellik vir verkeer te sluit,” sê Sun.

Volgens Sun het dit ook ’n ruk geneem om ander vervoer te reël omdat daar so baie was.

Die snelweg is omstreeks 12:00 gedeeltelik vir verkeer geopen, maar is net ná 16:00 heeltemal gesluit sodat ons die kiste met die oorskot op ’n waardige manier van die toneel verwyder kon word,” sê Sun.

Die M1-noord is sowat 20 minute later heeltemal vir verkeer opgemaak, terwyl die M1-suid gedeeltelik vir verkeer oopgemaak is sodat die opruimingswerk kon voortgaan.

Sun sê hy is bly om te hoor niemand is tydens die voorval beseer nie. Dit is egter kommerwekkend dat die bestuurder “geen respek vir die oorledenes of hul families” getoon het nie en die lyke op ’n “onwaardige en onhigiëniese” manier vervoer het.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!