Aankondiging oor Grondonteiening wyd verwerp

Cyril Ramaphosa se aankondiging dat grondonteiening sonder vergoeding ANC-beleid is, het ‘n hewige debat ontketen, en veral vanuit landbougeledere ernstige kritiek ontlok.

TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, het Ramaphosa se stelling beskryf as “onnadenkende emosie wat die oorhand gekry het”. Hy sê dit behoort elke verantwoordelike landsburger tot onrus te stem. “Dit is duidelik dat grond gebruik gaan word as geelwortel om die kiesers te probeer terug lok na die ANC nadat hulle opmerklik die sinkende skip begin verlaat het,” sê mnr. Meintjes.

“Die groeiende armoede en werkloosheid wat reeds Suid-Afrika in ‘n wurggreep gevange hou, het die potensiaal om die land totaal te destabiliseer. Suid-Afrika se ekonomie moet na groei geneem word ten einde volhoubaar hierdie knelpunt te kan aanspreek. Indien die ANC dink dat die broodnodige beleggings sal volg indien hulle daarin gaan slaag om die grondwet sodanig te verander, openbaar dit net hulle gebrek aan insig oor hoe ‘n land se ekonomie funksioneer. Hierdie stap het duidelik nie die skuld van grondeienaars met die grond as sekuriteit in ag geneem nie. ‘n Stap van onteiening sonder vergoeding sal die totale landbou waardeketting vernietig,” waarsku mnr. Meintjes.

“Die ANC se eie erkenning dat 95% van alle grondoordragte sover deur die regering geloods, uit produksie gaan, bring voedselsekerheid volledig na vore. TLU SA kan net op ‘n verantwoordelike wyse hulself verbind tot prosesse waar daar wel gekyk word na metodes om nuwe toetreders ten minste ‘n kans te gee tot sukses en nie te doen soos tans waar daar amper ‘n waarborg tot mislukking ingebou is nie.”

VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, sê die besluit dat die land se grondwet gewysig moet word om grond te onteien sonder vergoeding, is gevaarlik en bedreig die landbousektor, private grondbesit en ekonomie. Die besluit bedreig in wese alle private grondbesit en open die weg om later grond in Suid-Afrika te nasionaliseer.

“Diegene wat glo dat die voorwaardes van die besluit dat voedselsekerheid en die ekonomie nie benadeel mag word nie, effektief die onteiening nie moontlik maak nie, word mislei deur mooi woorde. Cyril Ramaphosa is ʼn meester om klem te lê op die aspekte wat mense gemoedsrus gee, maar die interpretasie van die voorwaardes sal ‘n ANC-interpretasie wees.

“Indien die Grondwet eers gewysig is, sal die interpretasie van voedselsekerheid so wyd geïnterpreteer word dat landbougrond onteien sal kan word sonder vergoeding.

“Ramaphosa het geen keuse as om die wil van die ANC uit te voer nie en hy as individu se magte is beperk. Indien die Grondwet eers gewysig is, is dit neusie verby vir private grondbesit op die langtermyn,” sê dr. Groenewald.

Deur: Die Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!