AfriForum-toekomsdebatte

Deur: Flip Buys

 

AfriForum het besluit om ’n spesiale reeks toekomsdebatte op ons blog te voer deur een van ons bewegingsleiers ’n vraag te vra wat gereeld aan AfriForum gestel word. Wat hierdie toekomsdebatte egter anders gaan maak, is die uitdruklike versoek dat dit op ’n vernuwende en oorspronklike wyse beantwoord moet word.

Ons skop hierdie debat af deur aan Flip Buys, voorsitter van AfriForum en die Solidariteit Beweging, te vra of selfbeskikking op praktiese wyse enigsins moontlik is. Die rede vir hierdie vraag is dat ons lede ons gereeld daaroor uitvra.

Agtergrond: Die Beweging se beleid is om voorsiening te maak vir drie uitdagings, en ons Helpmekaar 2020-plan het daarom ’n drieledige fokus:

  • Uitdagings wat almal in Suid-Afrika (’n nasionale gemeenskap) raak, soos munisipale verval;
  • Uitdagings wat alle Afrikaanssprekendes (’n taalgemeenskap volgens die Grondwet se Artikel 31) raak, soos Afrikaanse onderrig;
  • Uitdagings wat Afrikaners (’n kultuurgemeenskap volgens Artikel 31) raak, soos onbillike rassediskriminasie en die kriminalisering van ons geskiedenis.

Tweedens het jy by die Toekomsberaad gesê dat ons Helpmekaar 2020-plan plek het vir Afrikaners wat glo aan individuele regte, vir dié wat glo aan groepsregte, en vir dié wat glo aan die grondwetlike voorsiening vir selfbeskikking. Jou standpunt was dat dit nodig is om almal se standpunte in te sluit, om daardeur die grootste moontlike mate van eenheid te bewerkstellig.

Jy het ook gesê dat die werklikhede in die land – soos die bevolkingsverspreiding – ’n  “kitsvolkstaat” onmoontlik maak omdat daar nie ‘n Afrikaner-“Skotland” bestaan vir wie se “vryheid” daar beding, gestem, bereg of “geveg” kan word nie.

Tog is daar Afrikaners wat voel dat die toekoms só onseker is dat dit nie net aan die regering oorgelaat kan word om permanent oor ons te besluit nie, en dat ‘n vorm van selfbesluit of selfskikking weer oorweeg moet word.

Die vraag vir hierdie toekomsdebat is: Sien jy ’n uitvoerbare plan  waar die grondwetlike ruimte vir selfbesluitneming of selfbeskikking prakties benut kan word, deur Afrikaners wat glo dat selfstandigheid op ’n gebiedsbasis deel van die oplossing vir die toekoms is?

Flip Buys se antwoord in die vorm van ‘n artikel:

Vrystede as deel van die oplossing – Flip Buys

Die Amerikaanse ekonoom Paul Romer se verbeeldingryke idee van vrystede het die afgelope dekade ’n opskudding veroorsaak en behoort verder ontwikkel te word deur Afrikaners wat selfstandigheid nastreef. Ons gebruik eerder die woord Selfstandigheid as Selfbeskikking, vanweë laasgenoemde se politieke bagasie en omdat die voorwaardes daarvoor nie nou bestaan nie. Vrystede is stede wat onder ’n spesiale “handves” regeer word en nie soos gewone stede aan al die gewone staatswette onderhewig is nie. Dit word volgens selfgekose politieke, ekonomiese, juridiese, arbeid- en selfs kulturele stelsels regeer. Dié stede geniet afgewentelde selfbestuur, wat dit moontlik maak om pasmaak stelsels te ontwerp en beter besluite te neem omdat die regeerders meer in voeling met plaaslike omstandighede is.

In 2008 was 112 van Kalifornië se stede al vrystede, waarvan Los Angels en San Francisco die bekendstes is. Die beste voorbeeld van ’n vrystad is sekerlik Hongkong, wat saam met die stadstaat Singapoer as model vir China se vinnige ekonomiese ontwikkeling gedien het. Die Chinese leier en hervormer Deng Xiaoping het in die tagtigerjare vier vrystede naby Hongkong as loodsprojekte begin om te sien hoe die vryemarkstelsel in China kan werk. Na die sukses van hierdie stede het hy nog 14 sulke stede as “spesiale ekonomiese sones” begin en daarna die model oor die hele Ooskus van China gekloon. Uiteindelik het China “stad vir stad” na “staat” ontwikkel. Die regeerders van hierdie gebiede het beleggers, besighede en geskoolde werkers met hul vernuwende ekonomiese en politieke stelsels getrek. Só het die vrystadmodel van Hongkong die lanseerplatform van die opkoms van China geword volgens die beginsel van “een land, twee stelsels”.

Derdewêreldlande

Romer, ’n ekonoom aan die Stanford Universiteit, het bekendheid verwerf vir sy voorstel dat ryk lande vrystede op oop gebiede in arm lande help begin en dit dan onder ’n spesiale handves regeer. Dit kan sorg dat beter regering tot doeltreffende politieke, ekonomiese en regsreëls lei, wat weer tot die vinnige ontwikkeling van hierdie stede kan lei. Die doel is om hierdie suksesmodel dan na groter gebiede uit te brei, totdat die hele land naderhand beter regeer word. Hoewel lande soos Madagaskar en Honduras belangstelling getoon het, is die regeerders in baie Derdewêreldlande traag om die model te aanvaar omdat vernuwende idees maklik weerstand teen verandering uitlok. Romer se idees geniet egter steeds groot aanhang. Hy is in 1997 as een van Times se 25 invloedrykste persone benoem, en het in 2012 die tydskrif Foreign Policy se lys van honderd topdenkers in die wêreld gehaal. Sy lesing op TED se wêreldkonferensie in 2009 het hom regoor die wêreld bekend gemaak, en talle lande eksperimenteer met sy idees om die Hongkong-voorbeeld regoor die wêreld uit te voer.

Twee stelsels

Romer se vertrekpunt is dat swak regering die grootste oorsaak van armoede, werkloosheid en omgewingskrisisse is. Hy vergelyk die reuseverskille tussen lande wat gelyk begin het maar in twee regeringstelsels verdeel is, byvoorbeeld Oos- en Wes-Duitsland, Noord- en Suid-Korea, en natuurlik China en Hongkong of China en Taiwan. Die enigste verskil tussen die voorspoed van die een deel en die ellende van die ander deel was die verskillende regeringstelsels.

Die Chinese leiers het nes Romer geglo dat dit te moeilik is om ’n hele land dadelik te verander en dat dit makliker is om met ’n stad as lewende eksperiment te begin. Dit gee mense die vryheid om die nuwe stelsel te benut of die oue te behou, en is ook klein genoeg om talle proefnemings te doen voordat dit op ’n groter skaal uitgevoer en gekloon word. Romer voel veral sterk daaroor dat dit te moeilik is om bestaande stede met gevestigde stelsels en lewenswyses te verander omdat dit tot groot weerstand en selfs opstand kan lei. Sy voorstel is dat dit beter is om eerder nuwe stede te ontwikkel wat van die begin af volgens die nuwe reëls gebou is.

Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse regering het die Chinese eksperiment hier in ’n afgewaterde vorm probeer herhaal. In 2014 is die Wet op Spesiale Ekonomiese Sones (Wet No 16 van 2014) deurgevoer en areas soos Coega, Richardsbaai, Oos-Londen en Saldanhabaai aangewys. Dié gebiede se gebrekkige welslae spruit daaruit dat dit eintlik net gewone nywerheidsparke is. Daar is geen betekenisvolle aansporings of die reg om spesiale regeringsmaatreëls in te stel om besighede, beleggers of innoverende nuwe projekte te lok nie. Die rede hiervoor is die ideologiese verlamming op regeringsvlak tussen voorstanders en teenstanders, wat bang is dat die land se normale arbeidswette en belastings nie daar sal geld nie.

Vrydorpe

In die praktyk is privaat dorpe wat hulself regeer egter besig om landswyd te ontstaan. Die toenemende gewildheid van hierdie “vrydorpe” – wat ál meer en ál groter raak –is te danke aan beter veiligheids-, water-, elektrisiteit-, omgewings-, ontspannings-, onderwys- en leefstyldienste as wat die regering aan burgers kan lewer. Hier maak inwoners en ontwikkelaars in die praktyk hulle eie “wette” en val hulle nie in dieselfde mate onder dieselfde reëls as die res van die land nie. Die vinnige opkoms van hierdie dorpe staan in die teken van ’n staat wat al vinniger verswak en nie meer basiese dienste tot bevrediging bied van diegene wat dit kan bekostig nie. Dit is ook ’n vergestalting van mense wat nie deur die regering soos politieke minderjariges behandel wil word nie, en wat self oor hulle lewens wil besluit. Namate die gesentraliseerde politieke stelsel misluk, stel die bevolking self federale oftewel gedesentraliseerde of plaaslike owerheidsoplossings in werking. Die probleem is dat hierdie dorpe net vir die meer welvarende groep bekostigbaar is, en dat mense hier kliënte eerder as burgers is. Dit is bekend dat die regering ongelukkig is oor hierdie verskynsel, maar die feit is dat die tyd vir ideale oplossings in Suid-Afrika verby is, en dat burgers op  “tweedebeste” oplossings aangewese is.

Kultuurdorpe

Hierdie vrydorpe bied ’n oplossing vir die individuele behoeftes soos veiligheid en lewensstyl van mense wat dit kan bekostig, maar in die reël is dit geen oplossing vir mense se kulturele- en gemeenskapsbehoeftes nie. Omdat hulle in stede bly, is die vlak van outonomie wat hulle kan uitoefen ook uiters beperk en is hulle steeds blootgestel aan die verswakkende bestuur van die stede.

Die vraag is egter: Bied hierdie groeiende verskynsel ook ’n oplossing vir gemeenskappe wat voel dat hul taal, kultuur, leefwyse en veiligheid in gedrang is en wat dit saam as gemeenskap en nie net as gegoede enkelinge wil beskerm nie?

As soveel mense op grond van beter veiligheid en leefstyl saam wil groepeer, geld dieselfde beginsel sekerlik ook vir diegene wat graag op grond van hul taal en kultuur saam wil groepeer. Daar kan selfs ’n saak daarvoor uitgemaak word dat die Grondwet sterker voorsiening maak vir kultuurgemeenskappe wat hulle belange wil beskerm, as vir enkelinge wat dit in ’n  privaatdorp wil doen.

Orania as groeiende vrystad

Maar hoe sal so ’n kulturele vrystad in die praktyk kan werk? Die antwoord hierop is reeds enkele jare gelede ontwikkel deur prof. Dan Kriek, voormalige hoof van politieke wetenskap aan Unisa. Prof. Kriek het bekendheid verwerf vir die rol wat hy gespeel het as raadgewer vir die eertydse Verenigde Party van Sir De Villiers Graaff, en later die Progressiewe Federale Party en die KwaZulu-Natalse grondwetlike Indaba. Hy kan ook as die vader van die konsep van kultuurrade beskou word, wat uiteindelik in ’n bepaalde vorm in Artikel 185 en 186 van die Grondwet opgeneem is. Hy het Orania in die Noord-Kaap as voorbeeld gebruik en ’n moontlike grondwetlike “padkaart” voorgestel waarvolgens só ’n dorp tot ’n betekenisvolle vlak van selfstandigheid kan ontwikkel in terme van Artikel 235, 156 (Munisipaliteite), 104 (1) (Provinsies), 126 (Toedeling van funksies), 99 (Munisipale funksies), 125 (Provinsiale uitvoerende magte) en 41 (Samewerkende Regering) van die Grondwet. Hy het aangetoon dat dit vir Orania binne die Grondwet moontlik is om tot ’n soort vrystad te ontwikkel wat, indien dit polities beding word, selfs provinsiale status of selfs meer kan geniet. Die kern van sy voorstel was dat ’n dorp soos Orania algaande meer magte en funksies van die provinsiale en selfs nasionale owerheidsvlakke kan laat afwentel namate die dorp groot genoeg groei tot hulle in staat is om dit uit te voer. Daar kan later natuurlik nog naasliggende “Orania” kultuurdorpe ontwikkel word.

Hoewel Orania weliswaar gekniehalter word deur die politieke bagasie van ’n regse “volkstaat”, is dit grondwetlik moontlik as genoeg Afrikaners só ’n projek sou ondersteun. Dit is so dat die dorp nie nou aan die vereistes van ’n vrystad voldoen nie en inderdaad grootskaalse steun nodig sal hê om sy politieke beeld en isolasie af te skud, sy ontwikkeling te versnel en ’n deel van Romer se vrystad-idee te word. Aan die ander kant beskik die dorp reeds oor veel beter bestuur en lewensgehalte as die meeste ander klein dorpies in die land. Indien die dorp sy politieke bagasie kan afskud en die vrystad-idee kan aangryp, kan Orania ’n nuwe lewe kry. ’n Goeie begin sal wees om Orania se bestaande verbintenisse met Xhosa-gemeenskappe soos Mnyameni te versterk en hulle te help om ook die voordele van die vrystad-idee te verwesenlik.

Modeldorp

Die nuwe strewe om Orania van ’n dorp tot ’n stad uit te bou in plaas van ’n volkstaat, is meer werkbaar en in lyn met die nuutste ontwikkelings soos deur Romer bepleit. Orania het bepaalde nadele soos sy afgeleë ligging, klein getalle en politieke beeld. Dié nadele moet opgeweeg word teen die voordele van ’n nuwe begin, die afstand van onstuimige stedelike bevolkings en die kans om op ’n betreklik leë gebied sonder sterk staatstrukture prakties tot hoë vlakke van outonomie te vorder – sonder dat “toestemming” van die owerheid nodig is. Hoe vinniger die dorp groei, hoe meer provinsiale en selfs nasionale funksies kan vanaf die sentrale owerheid afgewentel word in terme van die Grondwet en bestaande wetgewing soos deur Kriek voorsien. Die dorp se goeie betrekkinge met die regering verbeter die kanse om saam met vennote soos Mnyameni met die owerheid vir meer magte of spesiale status soos in die geval van die spesiale ekonomiese sones te onderhandel. Dit kan die dorp in staat stel om mettertyd meer magte uit te oefen, totdat dit in ’n vrystad met ‘n omliggende string vrydorpe met eie politieke, ekonomiese, kulturele, opvoedkundige en arbeidstelsels kan ontwikkel. Deur hierdie lesse en stelsels met ander dorpe en gemeenskappe te deel, kan Orania juis ’n model word van ’n vrystad wat met ander vennote saamwerk. Op dié wyse kan ’n suksesvolle Orania binne ’n dekade moontlik as model dien om armoede die hok te slaan, gemeenskappe te bemagtig en hul taal, kultuur en omgewing te bewaar. Orania kan moontlik selfs in ’n mededingende alternatief tot emigrasie ontwikkel vir mense wat so aan die toekoms twyfel dat hulle wil emigreer. Interne migrasie is beter vir die land as buitelandse emigrasie. Die bepalende suksesfaktor gaan die mate van ondersteuning wees wat die dorp gaan kry van Afrikaners wat groter selfstandigheid ondersteun. Orania se sukses hang dus van die voorstaanders van selfbeskikking af, en nie van die regering nie. Reusevordering kan binne enkele jare gemaak word as voorstaanders van selfbeskikking die kans aangryp om die dorp tot ’n vrystad uit te bou, in plaas daarvan om net te kla oor hoe swak hulle deur die ANC regeer word.

Só ’n projek kan steeds vryheid van keuse bied – diegene wat daarmee verskil, hoef dit nie te ondersteun nie. Die Solidariteit Beweging se Helpmekaar 2020-plan bied genoeg ander projekte waarby mense betrokke kan raak. Dit kan wel ’n politiek-kulturele uitlaatklep bied vir ’n groot groep Afrikaners se groeiende vervreemding van die huidige bestel. Dit kan ook ’n kulturele kragstasie word wat dienste aan Afrikaanse gemeenskappe bied wat oor tien jaar hoogs waarskynlik nie meer in die meeste dorpe en selfs stede gaan bestaan nie. Natuurlik het hierdie voorstel vir ’n kultuurdorp as deel van die Suid-Afrikaanse verskeidenheid baie leemtes, en sal dit ’n klein onderdeel van ’n groter oorlewingsplan uitmaak. Maar enige voorstel moet teen die ander toekomsmoontlikhede opgeweeg word. Daar is nie meer volmaakte oplossings oor nie, en die bal is in die hande van voorstaanders van selfstandigheid om te wys dat so ’n praktiese voorstel wel kan werk.

Paul Romer verduidelik hier hoe China van stad tot stad tot ‘n moderne staat ontwikkel het.

 

The post AfriForum-toekomsdebatte appeared first on AfriForum.

Enjoyed this post? Share it!