Afrikaans en die bevordering van inheemse tale

Prof Jaap Steyn

Prof. Jaap C. Steyn. Foto: Verskaf.

Deur prof. Jaap Steyn

Ons hoor deesdae gereeld van die benadeling van die inheemse tale voor 1994, en die bevoordeling van Afrikaans ten koste van die tale van die swart mense. Laat ons dié bewerings bekyk ten opsigte van die onderwys, amptelike status en die uitsaaiwese.

Maar eers daardie “ten koste van”: Die waarheid is dat geen taal soveel ten koste van ander tale bevorder is as Engels nie. Die Kaapkolonie en Natal was Britse kolonies en Engels was daar die onderwys- en amptelike taal. Nadat die Vrystaat en Transvaal (die huidige Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en die grootste deel van Noordwes) in die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) deur Brittanje onderwerp is, het Engels ook daar die taal van die staatsapparaat en onderwys geword.

Afrikaners moes ’n lang stryd om erkenning van hul taal voer. Alleen deur volharding en toewyding kon dit ’n volwaardige wetenskap- en literêre taal word. Engels het egter die ekonomies dominante taal gebly – die taal wat mense moes ken vir belangrike betrekkings en sukses in die samelewing.

Teenkanting

Die swart gemeenskappe het nooit ʼn stryd gevoer om hul tale as onderrigmedium te gebruik nie. Trouens, pogings sedert die 1950’s om moedertaalonderrig in die swart onderwys te bevorder, is op groot teenkanting van swart mense gestuit.

Die destydse NP-regering was die eerste regering om ʼn algemene skoolstelsel vir die swart bevolking in te stel, later gevolg deur universiteite vir elke taalgroep. Een van die redes van verset teen die Wet op Bantoe-onderwys (soos dit destyds bekend gestaan het) van 1953 was dat dit moedertaalonderwys vir swart leerlinge verpligtend gemaak het. Die beleid in swart skole is bepaal deur die Eiselen-verslag.

Dr. W.W.M. Eiselen was die voorsitter van die “Naturelle-onderwyskommissie” wat in 1949 aangestel is. Die vernaamste aanbeveling was dat “die algemeen erkende beginsel, nl. die gebruik van die taal wat die kind die beste verstaan (die moedertaal), as medium, ook in die swart onderwys, moet geld”.

Die regering het die Eiselen-aanbevelings hieroor ten volle aanvaar. Skole moes die moedertaal as medium uitbrei van standerd 3 (tans graad 5) in 1956 tot standerd 6 (graad 8) in 1959. Toe is die eksamen vir die eerste keer geskryf in een van die inheemse tale pleks van Engels.

Die onderskeie taalkomitees van die taalkommissie van die eertydse departement van Bantoe-onderwys (soos dit destyds bekend gestaan het) het ’n belangrike bydrae gelewer tot die vasstelling van die ortografie van dié tale, die terminologie van die skoolleerplanne, onderwysregulasies en soms die skryf van handboeke.

Moedertaal

Volgens ’n kenner, K.B. Hartshorne, was die taalmediumbeleid vanaf die 1950’s tot 1976 die oorheersende faktor in die teenkanting teen die onderwystels van destyds. “African opinion never became reconciled with the extension of mother tongue medium beyond Std 2, nor to the dual medium policy in the secondary school.”

Die “dual medium” waarna Hartshorne verwys, was die beleid dat die helfte van die nie-taalvakke in swart hoërskole in Afrikaans en die ander helfte in Engels onderrig word. Die rede hiervoor was dat Afrikaans ʼn belangrike spreektaal in die land was, dat Afrikaans in die ekonomie van daardie jare onontbeerlik was, en omdat talle onderwysers Afrikaanssprekend was. Jare lank het die swart skole verlof gekry om alle vakke deur medium van Engels te gee, maar omstreeks 1976 het amptenare verlof begin weier. Die teenkanting teen die toepassing van die beleid is ongelukkig geïgnoreer. Afrikaans kon op dié wyse die vonk in die kruitvat word. Die opstand teen apartheid kon dus aan Afrikaans vasgeknoop word.

Engelse opstand

Verskeie mense het al verklaar dat die 1976-onluste ten gunste van moedertaalonderrig was. In werklikheid was dit ’n opstand om te verseker dat die swart hoërskole volledig verengels.

Omdat die moedertale van die swartes nie in die hoërskole gebruik is nie, het dié tale ook nie aan universiteite as onderrigmedium gedien nie. Aan die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat was dit onlangs ’n argument teen Afrikaans: Afrikaanssprekende studente word bevoordeel omdat hulle in hul moedertaal onderrig is en swart studente nie. Om die “speelveld gelyk te maak”, word geargumenteer, moet Engels die enigste voertaal word. Afrikaans moet dus ly onder die versuim van die swart elite om hul tale te ontwikkel.

Ná 1976 het moedertaalonderrig in swart skole afgeneem, ook in die gewese tuislande. In die meeste tuislande was die betrokke moedertaal die voertaal tot graad 4, en daarna Engels. Die Afrikataal was wel ʼn verpligte vak van die eerste tot die twaalfde skooljaar.

Een van die idealistiese oogmerke met die tuislande was die erkenning van die inheemse tale. Die destydse eerste minister, dr. H.F. Verwoerd, het in 1963 vir hul erkenning gepleit omdat die erkenning van ’n taal die waardigheid van die sprekers inhou. Taal en nasie wees is nóú met mekaar verbonde. Elke keer wanneer veroweraars die selfstandigheid van ’n volk wou wegneem, het hulle hul toegelê op die ontneming van die taal van daardie volk. Met die verdwyning van die taal sou die verowerdes ingelyf word.

Tuislandtale

Die vier tuisland-republieke het die volgende amptelike tale gehad: Transkei: Xhosa, met Suid-Sotho, Engels en Afrikaans as toelaatbare tale (wat vir amptelike doeleindes gebruik mag word); Bophuthatswana: Tswana, Engels en Afrikaans; Venda: Venda, met Engels en Afrikaans as toelaatbare tale; Ciskei: Xhosa en Engels. In die sogenaamde “nasionale state” het die ander tale erkenning gekry.

Die eie taal is veral gebruik vir mondelinge kommunikasie met die publiek, vir informele kommunikasie tussen die amptenare en vir die vertaling van wette. Dit was ook van ʼn besondere simboliese waarde. Engels is vir skriftelike kommunikasie gebruik en vir mondelinge informele (en soms formele) kommunikasie tussen die amptenare. Afrikaans en ander tale se rol was veel kleiner. Wette is dikwels in Afrikaans vertaal en dit is gebruik vir kommunikasie met Afrikaanssprekendes.

Uitsaaiwese

Wat die uitsaaiwese betref, het die SAUK van die begin van 1962 af met volwaardige dienste in Zoeloe en die drie Sotho-tale begin, en kort daarna ook in Xhosa, Venda en Tsonga. Wat dit moontlik help maak het, was die FM-diens wat in daardie jaar ingestel is, asook die koms van die transistorradio aan die einde van die 1950’s.

Suid-Afrika het in Januarie 1976 ’n televisiediens gekry, wat aanvanklik net in Afrikaans en Engels aangebied is. Van 31 Desember 1981 af het Zoeloe en Xhosa een kanaal gekry en die Sotho-tale ’n ander. Saam met dié tale was daar soms ook Engels.

Weens die ANC se voorkeur vir Engels is dit tans die ankertaal van SABCTV. Media Monitoring Africa het in 2012 vasgestel dat 76% van die SABC (SAUK) se TV-uitsendings in Engels is, 6% in Afrikaans en 5% in Zoeloe. Die res van die tale kry almal onder 5%.

Die agterstand van die tale van die swart gemeenskappe is in groot mate te wyte aan hul onwilligheid om hul eie tale te ontwikkel, omdat hulle Engels verkies.

  • Steyn is die skrywer van ‘Ons gaan ’n taal maak’. Afrikaans sedert die Patriot-jare, wat in 2014 by Kraal-Uitgewers verskyn het. Hy was professor in Afrikaans-Nederlands by die Universiteit van die Vrystaat.

Enjoyed this post? Share it!