Afrikaanse skole minder maar sterker verklaar vakbond Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het sy kommer uitgespreek oor die afname in die getal Afrikaanse skole, maar is nie bekommerd oor Afrikaanse onderrig nie. Dit gaan goed met Afrikaanse skole. Hulle is wel minder, maar hulle is groter en Afrikaanse wêreldklasonderrig is steeds moontlik.

Dit volg nadat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, in die parlement aangedui het dat die aanvraag na Afrikaanse onderrig afgeneem het en dat daar daarom ʼn afname in Afrikaanse skole is.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het dit wel gebeur dat leerlinge tussen skole gemigreer het as gevolg van die proses om skole na dubbelmedium-skole om te skakel wat later verengelsing tot gevolg gaan hê.

ʼn Groot rede vir die afname in die getal skole lê daarin opgesluit dat daar nie nuwe skole gebou word nie en talle van die bestaande skole verwaarloos en in onbruik verval het. “Die migrasie het egter groter en sterker Afrikaanse skole tot gevolg gehad,” het Buys gesê.

Buys voer aan dat minder skole nie noodwendig minder Afrikaanse leerlinge beteken nie. “Daar bestaan steeds ʼn behoefte omdat Afrikaanse skole van die beste skole in Suid-Afrika is,” het Buys gesê.

Solidariteit is in gesprek met verskeie rolspelers in die Afrikaanse onderwysomgewing om na oplossings vir die toekoms van Afrikaanse onderrig te soek. Sterk klem word op die volgende aspekte geplaas:

Opleiding van meer Afrikaanse onderwysers – Aros is reeds besig om 1 000 Afrikaanse laerskoolonderwysers op te lei;
Die Rapport-onderwysfonds;
Voortgesette ontwikkeling van onderwysers deur Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum – dié sentrum het reeds ook vanjaar honderde onderwysers deur geslaagde konferensies bereik;
Maatskaplike bystand aan kinders – Helpende Hand se voedingskema bereik 5 000 kleuters per dag;
Voorsiening van skryfbehoeftes deur Helpende Hand;
Metodes om outonomie van openbare skole te beskerm;
Finansiële selfstandigheid van skole;
Beter samewerking tussen rolspelers in die onderwysomgewing;
Waar nodig sal ons ook die uitvoerbaarheid van Afrikaanse privaatskole ondersoek; en
Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum ondersoek die moontlikheid om tegnologie soortgelyk aan dié van Akademia te gebruik.

Bron: Solidariteit
Skrywer: Onbekend


Enjoyed this post? Share it!