Afrikaners verdedig nie taal, maar gebied – Lesufi

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Donderdag in ’n openbare debat met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, weer gesê dat Afrikaans nie onderdruk word nie, maar bygevoeg dat die verlede nooit uit die oog verloor moet word nie.

“Ons kan vergewe, maar ons sal nooit vergeet nie,” het Lesufi aan Kriel gesê.

Die twee mans het mekaar in die Motsu-saal in Tembisa die stryd oor Afrikaanse skole se plek in die samelewing aangesê.

 Kriel het Lesufi daarvan beskuldig dat hy ’n “struikelblok” is vir swart kinders se toegang tot gehalteonderwys omdat hy op die “sagte teikens” fokus.

“Die werklike fokus hier moet die 80% disfunksionele skole wees. Dit is nie Hendrik Verwoerd se skuld dat daar nie onderwysers in ’n klas is nie,” sê Kriel.

EK WIL NIE SKOLE HÊ WAAR ‘KLEIN BASIES’ ALLEEN MET MEKAAR SPEEL NIE. ONS SAL DIT NOOIT TOELAAT NIE.
Panyaza Lesufi

“Jy bevind jou in slegte geselskap as jy elke keer hierdie en daardie blameer. Jy sê jy wil nie ’n rasseoorlog hê nie, maar jy hou aan om die minderheid te blameer.”

Lesufi het oor en oor daarop gehamer dat Afrikaans nie in die spervuur is nie, maar dat Afrikaners agter die taal skuil sodat toegang tot skole versper word. “Julle verdedig jul gebied en nie jul taal nie.” – Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!