Aftreegeld van Staatsamptenare ‘nié in SAL belê’ – Sien is Glo!

Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) ontken dat hy pensioengeld in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sal belê.

Dié versekering kom te midde van kommer en wrewel onder werkende en afgetrede staatsamptenare oor berigte dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) moontlik gebruik kan word om die SAL te herkapitaliseer.

Die OBK is die staatspensioenfonds se batebestuurder.

Die fonds sê op sy webblad sy lede se pensioengeld is veilig en dat hy glad nie genader is met ’n voorstel dat sy bates deur die OBK gebruik gaan word om die SAL te finansier nie.

“Ons vra ons lede en pensioentrekkers om nie paniekbevange te raak of te veel te lees in dié gissings nie,” lui die boodskap op die fonds se webblad.

Dit spruit uit uitsprake deur die nasionale tesourie in die parlement verlede week dat hy verskeie opsies oorweeg om die lugdiens te herkapitaliseer, waarvan die OBK as moontlike ekwiteitsvennoot een is.
“Die fonds ontvang gedurig versoeke via die OBK, oorweeg die meriete van alle beleggingsgeleenthede streng en belê verstandig in die beste belang van sy lede, pensioentrekkers en begunstigdes.”

DIE FONDS ONTVANG GEDURIG VERSOEKE VIA DIE OBK… EN BELÊ VERSTANDIG IN DIE BESTE BELANG VAN SY LEDE, PENSIOEN-TREKKERS EN BEGUNSTIGDES.

GEPF-verklaring

Volgens die fonds hou hy by streng regulasies om sy finansiële aanspreeklikheid teenoor sy lede, begunstigdes en pensioentrekkers na te kom. Hy het wel vertroue in die OBK om geld verstandig te belê ingevolge die ooreengekome beleggingsmandaat.

Die vakbond Solidariteit sê hy het Donderdag ’n brief aan Abel Sithole, uitvoerende hoof van die staatspensioenfonds, gestuur om meer duidelikheid hieroor te kry.

Schalk de Bruin, hoof van spesiale projekte by Solidariteit, sê dit is kommerwekkend dat hardwerkende amptenare se pensioengeld dalk gebruik kan word om ’n sinkende skip te red, met verwysing na die sukkelende lugdiens se verlies van sowat R4,5 miljard in die afgelope boekjaar.

“Die meeste geld wat die OBK tot sy beskikking het, behoort aan die staatspensioenfonds.”

De Bruin vra in die brief watter proses gevolg word indien die staatspensioenfonds wel die SAL gaan herkapitaliseer en of fondslede ingelig sal word voordat dit gedoen word.

Hy vra ook of die nasionale tesourie die fonds se trustees genader het oor die moontlikheid om die fonds se geld te gebruik om die SAL te herkapitaliseer.

Malusi Gigaba, minister van finansies, het volgens Eyewitness News in die parlement gesê die regering besluit nog watter minderheidsvennoot hy vir die SAL oorweeg en dat dit moontlik nie ’n private instelling sal wees nie.
Dondo Mogajane, waarnemende direkteur-generaal van finansies, wou luidens die berig nie bevestig of die OBK wel as vennoot oorweeg word nie, maar het in antwoord op vrae van die DA laat blyk dit is nie ’n opsie wat uitgesluit word nie.

David Maynier van die DA het daarop gesê dit is vreesaanjaend dat die tesourie dit kan oorweeg om pensioentrekkers se spaargeld te gebruik om die SAL se balansstaat te versterk, terwyl dit voortdurend verliese ly en “ ’n mislukte staatsonderneming is wat geen vooruitsig het om ooit winsgewend of volhoubaar te wees nie”.


Enjoyed this post? Share it!