Agri SA moet ophou praat en begin doen

Die landboubedryf, wat ‘n uiters belangrike rol in die privaat sakesektor en die ekonomie vervul, kan nie net aanhou om met die regering te praat oor die bedreigings wat sy vernietigende politieke en ekonomiese ideologie vir landbouprodusente inhou nie, want dit dien geen doel nie.

So sê mnr. Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Mnr. Brink het spesifeik verwys na die afwesigheid van die Minister van Landbou, Visserye en Bosbou, mnr Senzeni Zokwana, weens sy onttrekking as die hoofspreker by Agri SA se jaarkongres verlede week buite Pretoria.

Hy sê die tyd om met hierdie regering te praat is verby. Die leiers van Agri SA blyk egter baie adamant en duidelik naïef genoeg te wees om langer met hierdie politieke en ekonomiese korrupte regering te praat asof hulle daarmee enigsins iets sal bereik. Die regering het na 13 jaar nog steeds nie ‘n plan vir die langtermyn toekoms vir die kommersiële landbou nie. Die minister van landbou se departement is ook bankrot weens die volgehou korrupsie en kan geen dienste meer lewer nie.

“As die ANC-regering voortgaan om met sy suiwer politieke doelwit en totale onsuksesvolle poging om swart klein- en bestaansboere te probeer vestig, soos ook deur sy Nasionale Ontwikkelingsplan voorgestel is, deur produktiewe grond in klein stukkies te verdeel en hierdie boere in armoede te dompel, sal dit die voedselsekerheid van die land baie ernstig benadeel.”

Die voorsiening van voedsel aan arm mense, die volhoubaarheid van voedselsekerheid en die ontwikkeling van swart boere, is die regering en nie die landbou se primêre verantwoordelikheid nie. Die kommersiële landbou se verantwoordelikheid is om die land se hulpbronne so doeltreffend en winsgewend as moontlik aan te wend in belang van volhoubare produksie en die finansiële oorlewing van produsente, asook die landbou se bydrae tot voedselsekerheid en ekonomiese groei. As die voorsiening van voedsel nie winsgewend is nie, sal voedselsekerheid nie volhoubaar wees nie.

Brink sê om met die regering oor hierdie primêre doelwitte van die landbou, waaroor die ANC-regering geen kundigheid, belangstelling en nog minder begrip het nie, te praat, sal niks oplewer nie, soos duidelik deur die afwesigheid van die minister van landbou by Agri SA se kongres bevestig is. Baie meer daadwerklike en indringende stappe sal oorweeg moet word wat ook die vervaardigers en verspreiders van landbou-insette, die verwerkers van landbouprodukte, diensteverskaffers en die verbruikers, asook die land se buitelandse handelsvennote en finansiers, moet insluit.

Die gesprekke deur die privaat sakesektor met die regering en die arbeidsektor, wat met hulle sosialistiese en kommunistiese ideologie, geensins ’n idee het hoe voedselsekerheid en ekonomiese groei geskep kan word nie, is lankal nie meer betekenisvol nie.

“Die sakesektor sal nou moet ingryp, sy rug moet reguit maak en beheer moet neem oor al die ekonomiese aktiwiteite, ondersteuning en samewerking met die regering waaroor hy beheer kan uitoefen en ophou om die regering regop te probeer hou. Hoe lank wil die verskillende bedrywe in die ekonomiese sektore van die land nog aanhou om toe te kyk hoe alles rondom hulle verkwis en vernietig word?”

Brink sê die privaat sakesektor sal daadwerklik moet aandag gee aan doeltreffende maatreëls en optrede om die regering se onbeheerde vermorsing van die belastingbetalers se geld stop te sit.

“Al die gesprekke maak geen indruk op die regering nie. Indien hierdie of ‘n nuwe regering na 2019 nie beter insigte openbaar nie, dan sal die skrif aan die muur wees en sal Suid-Afrika net verder in ‘n onderontwikkelde land soos in die res van Afrika verval met ‘n vernietigde ekonomie, ongekende hongersnood en baie groter armoede,” volgens mnr. Brink.


Enjoyed this post? Share it!