Al hoe meer oeste word gesteel, hulle steel ons land rot en kaal

Die sogenaamde doodskis saak het die aandag gevestig op probleme van boere wie se oeste eenvoudig gestroop word. In die betrokke saak het die boer afgekom op iemand wat besig was om sy sonneblomme te stroop.

Reeds etlike jare gelede het die SABC program, Fokus, ‘n program gehad oor boere naby Bapsfontein wie se mielies feitlik heeltemal gestroop is terwyl dit van die kant van die lande af lyk of alles reg is. Bakkie gaan egter na die middel van die land waar dit vol gelaai en gesteel word.

Onlangs is berig dat die diefstal van Pekaneute net in Noord-Transvaal, sowat R140 miljoen per jaar beloop. ‘n Boer het op sy eie werkers afgekom wat helder oordag ‘n bakkie vol pekaneute wegry. Die waarde van so ‘n vrag beloop R50 000.

Die naweek het ‘n aantal mense uit ‘n nedersetting naby Ofcaloco, naby Tzaneen, op ‘n plaas begin om sakke vol mangoes te stroop. Die plaaslike polisie kon of wou niks doen om die stropery te keer nie.

Die stropery het die volgende dag voortgegaan en polisieversterkings is ingeroep terwyl die GPF ook op die toneel was. Toe dié probeer om die stropery te stop, het die stropers ‘n trekker aan die brand gesteek.

Die polisie het geweet wie die voorbokke was, maar het geen poging aangewend om hulle te arresteer nie.

Van die plaasarbeiders is geïntimideer om te help met die stropery.

Selfs senior SAPD personeel was op die toneel maar kon of wou niks doen nie in vrees dat die stropers ander boorde van naburige plase ook sou teiken.

Dit blyk dus dat die polisie nie die vermoë het om die soort misdaad aan te spreek nie.

Dit is nie bekend hoeveel skade die boer gely het as gevolg van die stropery nie.


Enjoyed this post? Share it!