ANC gaan voort met plan om provinsies te herskik

Die ANC gaan ondanks besware van die opposisie volstoom voort met sy planne om provinsies te herskik om dit minder te maak.

Die ANC se beleidskonferensie verlede week het gevra vir ’n presidensiële kommissie hiervoor wat opgestel moet word sodat sy werk afgehandel kan wees voor die party se verkiesingskonferensie in Desember.

Die ANC het in 2007 besluit dat die aantal provinsies van nege na ses verminder moet word.

Obed Bapela, ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het Maandag gesê die kommissie sal die magte en funksies van provinsies en ook die getal provinsies bekyk. Die was een van die rits voorstelle wat die ANC by sy beleidskonferensie, wat Woensdag ten einde geloop het, aanvaar het.

“Ons moet die magte en funksies van provinsies en plaaslike regering harmoniseer, want in sommige gebiede is daar ’n wedywering vir ruimte,” het Bapela Maandag op ’n mediakonferensie gesê.

Die party het by sy verkiesingskonferensie in 2007 in Polokwane besluit om die getal provinsies van nege na ses te verminder. Die party het toe gesê dit sal help om dienslewering te verbeter.

Die party het weer by die vergadering in 2015 van sy nasionale algemene raad weer gevra vir ’n presidensiële kommissie, maar dit het nog nie gematerialiseer nie.

Die opposisie het die ANC toe daarvan beskuldig dat hulle dit wil doen in ’n poging om aan die bewind te bly.

Die ANC het sedert 2009 deurlopend minder stemme in verkiesings gekry. Daar is vrese in die party dat hy ’n steeds kleiner meerderheid kan kry en hulle selfs in plekke soos Gauteng in die opposisiebanke kan bevind, waar hulle slegs 53% van die stemme in die 2014-verkiesing gekry het en die mag in die metro’s van Johannesburg en Tshwane verloor het.

DIÉ IS ’N POLOKWANE-BESLUIT, SO OUD IS DIT. DIT HET NIKS MET 2019 TE DOEN NIE
Bapela het egter ontken dat die hernude dringendheid is met die oog op die algemene verkiesing in 2019.

“Dié is ’n Polokwane-besluit, so oud is dit. Dit het niks met 2019 te doen nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die besluit is gemotiveer deur die konsentrasie van hulpbronne op ’n provinsiale vlak, terwyl die meeste dienslewering op ’n plaaslike regeringsvlak geskied.

Nog ’n sleutelvoorstel is dat afbakening net elke tien jaar gebeur, in ooreenstemming met die sensus in die land. Dit nadat die ANC vyandigheid en gewelddadige protes ervaar het in plekke soos Vuwani en Malamulela oor afbakening.

Bapela sê egter dat die afbakening ’n voortgesette proses sal wees weens die voordurende bevolkingsverskuiwing van die platteland na stede.

Bron: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!