‘ANC-generaals vra vir waardige vertrek vir Zuma’

Zuma NY’n Groep “ANC-generaals” het ’n dokument aan Gwede Mantashe,  die ANC se sekretaris-generaal, oorhandig waarin hulle vra dat ’n “waardige vertrek” vir pres. Jacob Zuma onderhandel word.

Hulle versoek ook dat ’n onafhanklike regterlike kommissie die “onbehoorlike invloed deur die Gupta-familie op die ANC en die staat” ondersoek.

Power987News het Woensdagoggend getwiet dat genl. Siphiwe Nyanda, voormalige weermaghoof en oudminister van kommunikasie, glo een van die ANC-lede agter dié dokument is. Die dokument kom glo van ‘n groep voormalige MK-veterane.

Nyanda kon nie dadelik vir kommentaar op sy selfoon bereik word nie.

’n Uittreksel uit die dokument wat op Twitter gedeel is, lui dat “terwyl die uitdagings wat die ANC in die gesig staar baie en kompleks is, is ons baie bekommerd oor die toenemende tendens van staatskaping”.

Die dokument verwys spesifiek na die “onbehoorlike invloed van die Guptas op die besluite van die staat vir hul private voordeel” en dat hulle nie langer kan stilbly in die lig van dié “ondemokratiese en gevaarlike ontwikkelinge” nie.

“Daar is baie, baie verslae van hul onbehoorlike invloed op die besluite van die staat. Ons is oortuig daarvan dat baie van die verslae waar is. Daar kan nie rook sonder vuur wees nie.

“Ons doen ’n beroep op die ANC-leierskap om op te tree teen dié tendens en om sy waardigheid terug te eis. Ons moet die ANC en die staat van die invloed van die Guptas en hul begunstigdes bevry.”

Die ANC-leierskap moet luidens die dokument die wysheid daarvan ontleed om voort te gaan met Zuma as hoof van die party en die staat in die lig van die “baie mislukkings” en onthullings rondom sy leierskap wat die party in die verleentheid gestel het.

“Ons glo dat ’n waardige vertrek vir kameraad J. Zuma onderhandel moet word ter wille van die ANC en die land. Lank leef die ANC!” lui die dokument.

Die uitspraak kom ná ’n week van onthullings deur Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, en Vytjie Mentor, oud-ANC-LP, dat hulle na die Gupta-familie se huis in Saxonwold genooi is waar hulle kabinetsposte aangebied is.

In die jongste ontwikkeling het Themba Maseko, voormalige hoof van die regering se kommunikasie en inligtingstelsel (GCIS), aan die Sunday Times gesê Zuma het hom in 2010 persoonlik gebel om te verseker dat hy met die Gupta-familie vergader. Dit was kort voor die bekendstelling van die New Age-koerant wat aan die Guptas behoort.

In dié vergadering het die Guptas luidens die berig gevra vir grootskaalse regeringsadvertensies om na die koerant gekanaliseer te word. Maseko het geweier en is ’n jaar later ontslaan.

Die Guptas ontken dié beweringe.

Deur Philda Essop 23 Maart 2016 12:27- Nuus 24

Enjoyed this post? Share it!