ANC het oog op betaaltelevisie én mediabeheer

Die ANC het die monopolie in die betaaltelevisie-bedryf in sy visier, het Jackson Mthembu, hoofsweep van dié party Woensdagaand by Nasrec buite Johannesburg gesê.

Mthembu het ’n mediakonferensie gehou om te gesels oor beleidsbeluite van die ANC se kommunikasie-kommissie.

“Daar is ’n monopolie in betaaltelevisie in Suid-Afrika,” het Mthembu gesê sonder om die name van enige maatskappy te noem. “Suid-Afrika kan nie só ’n monopolie bekostig nie. Ons dring aan op die vinnige transformasie van betaaltelevisie.”

Mthembu het gesê die konferensie het die regering opdrag gegee om die migrasie van analoog na digitaal in die televisiebedryf teen Junie 2019 af te handel.

“Dit moes al twee jaar gelede gebeur het.”

Die konferensie het ook bepaal dat die SABC ’n kwota van 70% vir plaaslike inhoud moet kry. Dié doelwit moet oor vyf jaar verwesenlik word.

Die omstrede kwessie van ’n mediatribunaal het ook weer ter sprake gekom. Mthembu het gesê ’n parlementêre ondersoek moet gedoen word na die lewensvatbaarheid van só ’n tribunaal. Daar moet gekyk word of só iets nodig is en of selfregulering die oplossing is.

“Die kommissie het nie ’n besluit daaroor geneem nie, maar slegs ’n aanbeveling gedoen.”

Volgens Mthembu het die ANC oop kaarte met die media op die konferensie gespeel, hoewel die media nie toegelaat is om met gewone afgevaardigdes te praat nie.

Die media is slegs onder streng toesig by enkele geleenthede in die groot saal toegelaat waar die meer as 4 000 afgevaardigdes sedert verlede Saterdag vergader het.

“Ons het gereeld perskonferensies gehou om die media op hoogte te bring van wat deur kommissies bespreek is. Ons kon nie ’n joernalis vir elke afgevaardigde toegelaat het nie.”

Hy het gesê dit is onvermydelik dat inligting uitgelek het.

Die ANC het ook planne bespreek om sy eie mediaplatforms te skep sodat hy nie van ander media afhanklik moet wees om sy boodskappe uit te dra nie.

Die ANC sal ook sy mediabeleid moet finaliseer. Dit sluit ook sosiale media soos Facebook en Twitter in, is gesê.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!