ANC is bereid om kiesers te mislei, tot in die hoogste hof…

“Die kort weergawe is dat die ANC bereid is om die land se kiesers blatant te mislei ter wille van ’n despoot soos Mugabe, en bereid was om dié misleiding tot in die hoogste hof te voltrek,” skryf Herman Toerien.

Laas maand het ’n brokkie uiters belangrike nuus in ons nuusruim, onder die radarhoogte, inbeweeg. As u dus nou vir die eerste keer hiervan hoor, is dit nie u onoplettendheid nie… dit het gewoon nie die nuusdekking gekry wat dit verdien het nie.

Vrydag voor 21 Nov. is die jarelange hofstryd afgesluit waarin die Mail & Guardian ’n grondwetlike en wetlike bepaling probeer afdwing het om insae te kry in die sogenaamde Khampepe-verslag. Die Mail & Guardian wou amptelike bevestiging kry dat die Zimbabwiese verkiesing van 2002 nie vry en regverdig was nie, en dat die Suid-Afrikaanse regering daarvan geweet het, maar nogtans standpunt ingeneem het dat Mugabe die verkiesing regverdig gewen het.

Drie opeenvolgende presidente, Thabo Mbeki (wat die kommissie aangestel het), Kgaleme Motlanthe en Jacob Zuma, het egter alles in die stryd gewerp om te keer dat die bevindinge bekend gemaak word. Vrydag het die grondwetlike hof die verset die doodskoot gegee, en die Mail & Guardian (wat reeds op straat was) kon die bevindinge op die internet plaas.

Die bevindinge was dat regters Sisi Khampepe en Dikgang Moseneke, wat deur Mbeki na Zimbabwe gestuur is om die verkiesing te monitor en verslag te doen, inderdaad bevind het dat die geweldpleging en ander manipulasie voor die verkiesing, en onder andere beheer oor die toegang tot die openbare media, so erg was dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie.

En hoe het ons eie openbare uitsaaier op verlede Vrydag se nuus gereageer? ʼn Soektog deur RSG se argiewe dui daarop dat RSG laas op 5 September, toe die uitspraak nog in die appèlhof voorbehou is, oor die verrigtinge verslag gedoen het. Dis waarskynlik eerder ’n nuusglips as ’n handeling om die ANC ter wille te wees, maar dit is steeds verontrustend. Dieselfde geld waarskynlik Netwerk 24 wie se argief ook aandui dat geen nuusdekking hieraan verleen is nie. Dis geen veroordeling nie, bloot ’n waarneming.

Media 24, in die vorm van News 24, het wel Donderdag die nuus gedra toe die Zimbabwiese opposisieleier, Morgan Tsvangirai, woedend gereageer het.

Maar wat is die betekenis hiervan?

Die kort weergawe is dat die ANC bereid is om die land se kiesers blatant te mislei ter wille van ’n despoot soos Mugabe, en bereid was om dié misleiding tot in die hoogste hof te voltrek. Dit werp ’n baie donker skadu oor die ANC se verbintenis dat verkiesings ook hier vry en regverdig moet wees. Dit sluit in ’n verbintenis tot ʼn onverbondenheid van die openbare uitsaaier, en met genoeg maatreëls in plek om ’n andersins vrye media te verseker. Daar lyk dinge ook nie te waffers nie, met Suid-Afrika wat lank nie die mees vrye pers op die kontinent het nie soos die land op hierdie indeks die kreeftegang gegaan het.

Die onthulling oor hoe drie agtereenvolgende presidente verbete die waarheid van die Suid-Afrikaanse kiesers weerhou het, val saam met die sweer wat in die parlement oopgebars het.

Die vingers word lustig oor en weer gewys, maar die feit is dat die manier waarop die ANC oor ’n lang tyd ’n beergreep op die parlement begin uitoefen het om dit in ’n rubberstempel vir Luthuli-huis te maak, het ook reeds in die howe, en die grondwetlike hof gaan draai. Die ANC het selfs die mees basiese tradisie van parlementêre demokrasie – om ʼn mosie van wantroue in die president te kan stel, probeer nek omdraai. En, so lyk dit, dis juis hierdie demokratiese praktyk se toepassing wat nou die ooreenkoms tussen partye om orde in die parlement te herstel, nek omgedraai het.

Dat die DA in die openbare mening nie met skoon hande daarvan afkom nie, moet minstens ten dele voor die deur van die DA gelê word as na die DA se media-aksie op sy webwerf gekyk word. Dit lyk of die DA sy kant deur uittreksels van toesprake deur ampsdraers probeer stel. ’n Bietjie basiese kennis van kommunikasie deur politieke partye wêreldwyd toon dat dit nie werk nie, en ook reeds regerings tot ’n val laat kom het.

Toe Margaret Thatcher en haar Tories aan bewind gekom het, het hulle dit juis grootliks vermag deur professioneel te kommunikeer. Die Arbeiders het geklou aan die LP-tradisie dat die parlementslede self “meester-kommunikators” is, en dat die professionele kommunikasiekundiges maar wyd moes hou. Maar ’n groot bek hou eenvoudig nie teen professionele kommunikasiekundiges nie. En nou nog minder met politici wie se beeld by kiesers wêreldwyd aan skerwe lê. Pres. Barack Obama van die VSA wat as spreker internasionaal hoog aangeslaan word, was voor die Amerikaanse midtermyn-verkiesing so ongewild dat van sy eie party se kandidate wal gegooi het dat hy as spreker by hul verkiesingsgeleenthede moet kom optree.

In Suid-Afrika is die posisie nog komplekser. Die afgelope aantal jare het die gemeenskaps- en sosiale media baie gegroei. Hierdie media beskik selde oor vertalers, en nuusverklarings wat slegs in Engels voorsien word, beland dikwels weens ’n gebrek aan kapasiteit om dit in ander tale te vertaal in die snippermandjie. Om ’n toespraak, of ’n deel van ʼn toespraak, te verwerk en te vertaal maak dit nog moeiliker. Boonop het die nuusgebeure in die parlement mekaar so vinnig opgevolg dat dit moeilik was om by te hou.

Ook ander politieke partye gaan nou nie juis uit hul pad om die kiesers op die hoogte van sake te hou nie. Die indruk word geskep dat die partye onderling dit nie almal eens is oor ander se optrede nie, en self ook onseker is oor die beste manier oor hoe om die krisis aan te spreek.

Hierteenoor span die ANC waarskynlik sy mees geloofwaardige lid in om die vlag te dra – adjunk-president Cyril Ramaphosa.

Die bekendmaking van die Khampepe-verslag neutraliseer egter al die voordeel wat die ANC in die koppestamp kon verwerf. Of dit behoort dit te neutraliseer.

Hoewel Mugabe se bewind einde se kant toe staan, lyk dit in hierdie stadium of reeds aan hoofstuk twee geskryf word – met sy jong vrou Grace (en eertydse sekretaresse) wat nou vinnig die nodige skuiwe maak om haar man op te volg. En te oordeel aan haar spandeervermoë, uitsprake en omstredenhede, lyk dit of sy eerder ’n nog groter ramp vir Zimbabwe gaan wees as Mugabe self.

Te danke aan ’n toesmeeraksie van 2002 af.

Die MDC het juis tot stand gekom toe daar ’n breekspul tussen die regerende Zanu-PF en sy vakbond-vennoot was. Trouens, Cosatu het lank sy sentimentele bande met die MDC behou, maar uiteindelik onder druk van die ANC die MDC die rug toegekeer. Nou het die ANC sy eie moeilikheid met Cosatu, hoewel dit baie anders manifesteer. Dit wil byvoorbeeld lyk of die kanse dat ’n meer gematigde politieke party of magsblok uit Cosatu of sy afvallige filiale kan voortspruit, ongeveer so goed is as dat Suid-Afrika teen Kersfees ’n basis op Mars sal kan inrig.

Aan die ander kant toon die manier waarop die Khampese-verslag hanteer is tot welke mate die ANC bereid is om sy talle muishondvriende oor die wêreld te beskerm, al is dit tot die uiterste nadeel van die land.

 

10846353_326917587496362_4418629556029247992_n

 

robert-en-grace-mugabe-320x213

Enjoyed this post? Share it!