ANC-jeug sê ‘arrogante gronddief’ #RupertMustFall

Die ANC-jeugliga in die Wes-Kaap gaan Vrydag by Remgro se kantore in Stellenbosch betoog om sy afkeer oor Johann Rupert, voorsitter van die maatskappy, se onlangse aanmerking oor radikale ekonomiese transformasie te kenne te gee.

Die jeugliga is woedend oor Rupert se aanmerking op Remgro se jaarvergadering in Switserland dat radikale ekonomiese transformasie net ’n “kodewoord vir diefstal” is. “Hulle beroof die staatskas en dit is algemeen bekend,” het Rupert gesê.

Die jeugliga sê in ’n verklaring hy wil ’n memorandum by Remgro aflewer waarin hy die “gedrag van die arrogante gronddief” verwerp. Sy uitlatings dui op die arrogansie van sakelui, hoofsaaklik wit mans, sê die jeugliga.

Lede van Umkhonto weSizwe se vereniging vir militêre veterane (MKMVA) sal hulle glo by die protesoptog aansluit en die jeugliga hoop die beweging Black First Land First (BLF) sal ook daaraan deelneem.

Die betogers gaan na verwagting omstreeks 09:00 onder die banier #RupertMustFall van die Stellenbosch-stasie na Remgro se kantore opmars.

Mariza Lubbe, ’n direkteur van Remgro, sê die maatskappy neem kennis van die optog en sal sorg dat ’n verteenwoordiger daar is om die memorandum te ontvang. Remgro vertrou ook dat die protesoptog vreedsaam sal verloop.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!