ANC-lede dreig en moor opposisie

Vrae word in politieke kringe gevra wat sou gebeur as die ANC werklik die mag sou verloor in ‘n verkiesing, en of hy homself nie met geweld en intimidasie aan bewind sou hou nie.

Dit volg nadat Zoniselo Magawu, ‘n ANC-kandidaat, in die landdroshof in Postmasburg verskyn het nadat hy in hegtenis geneem is vir die moord op Johannes Baaitjie (49), plaaslike pastoor en nuutverkose DA-raadslid in die Kgatelopele-munisipaliteit, en poging tot moord op sy sakevennoot,

‘n VF+-raadslid van Johannesburg, mnr. Franco de Lange, moes noodgedwonge sy veiligheidsmaatreëls opknap nadat hy ‘n anonieme SMS ontvang het waarin hy gedreig is om nie by ‘n koalisie met die opposisie betrokke te raak nie, anders kan sy vrou en kind dalk verdwyn.

Die nuwe DA-burgemeester van Saldhanna, mnr. Marius Koen, het ‘n pakkie met ’n skaapkop, dooie voëls en ’n lewende skilpad met ’n rooi lint om sy nek, toegebind in ’n bebloede laken, op sy voorstoep gekry. Skynbaar het hy ook reeds voorheen dreigemente ontvang.

Dit is duidelik dat die ANC nie daarvan hou om sy magsposisie te verloor nie, meen politieke waarnemers. Dit kan daartoe lei dat hulle, net soos Robert Mugabe enkele jare gelede in Zimbabwe, eenvoudig weier om pad te gee selfs al sou die kiesers teen hom gestem het.

Alhoewel die ANC nou wel op plaaslike regeringsvlak verliese gelei het, beheer hy steeds die meeste munisipaliteite in die land, en is hy steeds in beheer van nasionale en provinsiale regerings.

Bron: Die Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!