ANC lyfwagte swaai AK47 – aan wie behoort hierdie onwetttige vuurwapens?

Terwyl die Moerane kommissie van ondersoek die politieke geweldpleging in Natal ondersoek, het ‘n video die lig gesien van twee swart mans wat dreig om ‘n “hond” te skiet, en dan ‘n AK 47-geweer uitpluk en oorhaal.

Dit blyk dat die twee die lyfwagte is van ‘n Natalse ANC-leiersfiguur, Bheki Ntuli.

Ontleders sê daar is nou nie veel twyfel meer oor wie verbind kan word met die politieke geweld in Natal nie, en dat die ANC nou baie het om te verduidelik, ten spyte daarvan dat die party hom van die mans gedistansieer het.

VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, het intussen geëis dat die twee in hegtenis geneem moet word vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Dr. Groenewald sê die feit dat die lyfwag ’n AK47 (outomatiese aanvalsgeweer) vertoon het, is genoeg rede vir sy inhegtenisneming aangesien private persone nie gelisensieer kan word om AK47 te besit nie.

Hy sê indien dit die ANC as organisasie se wapen is, moet die ANC verduidelik hoe hy in besit kan wees van ʼn aanvalsgeweer soos ʼn AK47.

“Ek sal die saak in die parlement opvolg en sal die polisie versoek om ʼn ondersoek te doen oor aan wie hierdie wapen behoort aangesien onwettige vuurwapens ʼn groot krisis in Suid-Afrika is wat misdaad bevorder.

“Gewapende aanvalle het tans ʼn verlammende invloed op die politieke situasie in KwaZulu/Natal en die ANC moet verduidelik hoe sy lyfwagte in besit van wapen soos hierdie kon kom,” sê dr. Groenewald.

Foto: Die ANC lyfwagte met ‘n AK 47 geweer.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!