ANC = Moord, korrupsie en oneerlike transaksies

n Betaling van R1 miljoen wat glo deur die radiopersoonlikheid Thabo “Tbo Touch” Molefe aan Fikile Mbalula, minister van polisie, gemaak is, het vrae laat ontstaan oor Mbalula se moontlike verbintenis met ’n tenderpreneur en ANC-begunstigde wat in 2015 vermoor is.

Volgens hofdokumente word daar beweer dat Wandile Bozwana, ’n sakeman van Noordwes wat in Oktober 2015 in Pretoria doodgeskiet is, vroeër ’n regsfirma in Bloemfontein beveel het om R1 miljoen aan Molefe te betaal. Die geld was na bewering vir Mbalula bedoel.

Esethu Hasane, Mbalula se woordvoerder, het die bewerings in die dokumente heftig ontken, en gesê dit is deel van die media se  “onverbiddelike (en) onboetvaardige veldtog om die minister te belaster”.

Die hofdokumente dui aan dat Bozwana die regsfirma Hannes Peyper Incorporated beveel het om Molefe, wat glo as Mbalula se verteenwoordiger opgetree het, te betaal.

’n Betroubare bron het bevestig dat  die beweerde betaling is in 2015 gemaak kort voor Mbalula en Molefe ’n omstrede reis na Las Vegas onderneem het om ’n boksgeveg tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao by te woon. Mbalula was ten tyde van dié reis die minister van sport.

ANC =Moord, korrupsie en oneerlike transaksies

Fikile Mbalula destydse minister van sport

“Mbalula was die ontvanger en begunstigde van die betaling van R1 miljoen, met die bedrag wat aan die vyfde beskuldigde (Molefe) betaal is as Mbalula se benoemde,” lui die hofdokumente.

Dié dokumente spruit uit ’n hofstryd tussen Tsoga Developers, ’n maatskappy wat met Bozwana verbind word en wat in 2008 ’n omstrede tender van R456 miljoen toegeken is vir die bou van ’n staatshospitaal in Brits, en Hannes Peyper Incorporated, die regsfirma in Bloemfontein.

Tsoga het ’n siviele eis ingedien oor geld wat na bewering deur die firma op Bozwana se versoek bestee is sonder die toestemming van Tsoga se besturende direkteur, nadat Tsoga ’n skikkingsbedrag van nagenoeg R50 miljoen van Noordwes se departement vir openbare werke en vervoer ontvang het. Dié betaling het gevolg op Tsoga se onttrekking uit die hospitaalprojek.

Hannes Peyper van die regsfirma sê die saak is intussen buite die hof geskik.

Die inligting oor die geld wat glo aan Mbalula betaal is, is saamgevat in hofstukke deur die firma en sy twee direkteure, Hannes en Madalane Peyper. Hierin versoek hulle dat Mbalula as ’n beskuldigde in die saak gevoeg word, aangesien die bedrag wat glo aan Molefe betaal is, vir Mbalula bedoel was.

MBALULA WAS DIE ONTVANGER EN BEGUNSTIGDE VAN DIE BETALING VAN R1 MILJOEN, MET DIE BEDRAG WAT AAN DIE VYFDE BESKULDIGDE (MOLEFE) BETAAL IS AS MBALULA SE BENOEMDE.

“Die klaer (Tsoga) eis betaling van die vyfde beskuldigde (Molefe) van R1 miljoen, op die grondslag dat die beskuldigde die ‘derde party’ was aan wie die bedrag ‘namens die minister van sport’ betaal is,” lui die aansoek.

Aangesien “die vyfde beskuldigde (Molefe) nie ’n direkte en aansienlike belang het in die verligting wat in die saak gesoek word nie . . . moes Mbalula as ’n beskuldigde genoem word”.

Die hofdokumente wys dat die beweerde betaling deel vorm van ’n reeks transaksies uit ’n trustrekening wat deur die regsfirma namens Tsoga bestuur is nadat die laasgenoemde in 2013 die skikking van R50 miljoen ontvang het.

Volgens ander hofdokumente oor die hospitaaltender het die departement van openbare werke uiteindelik in November 2014 ’n bedrag van R20 miljoen aan Tsoga betaal. Nadat die departement teen Maart 2015 versuim het om die res te betaal, het Tsoga toestemming gekry om beslag te lê op een van die departement se bankrekeninge.

Dié rekening het sowat R30 miljoen gehad, wat in die regsfirma se trustrekening geplaas is.

Bozwana en Tsoga het ook beslag gelê op verskeie voertuie wat aan Noordwes se provinsiale regering behoort het.

In Mei van dieselfde jaar het Mbalula en Molefe na Las Vegas gereis. Mbalula het in dié stadium geweier om te sê wie vir die reis betaal het.

ANC =Moord, korrupsie en oneerlike transaksies

Thabo “Tbo Touch” Molefe

Hasane het die media daarvan beskuldig dat hy “baie ongegronde bespiegelings maak” toe hy gevra is of die  R1 miljoen gebruik is om die reis te finansier.

Volgens Hasane probeer die media om “ ’n prentjie te teken van die minister as begunstigde van Bozwana se ondernemings, en dat ’n lening aan hulle gegee is vir ’n reis na Las Vegas”. Hy het ook dié bewering as “vals en totale bog” bestempel.

ANC =Moord, korrupsie en oneerlike transaksies

Vermoorde Wandile Bozwana

Dit is nie duidelik uit die regsfirma se dokumente wat die rede was vir Bozwana se beweerde bevel om die geld deur Molefe na Mbalula te stuur nie.

Volgens die dokument het Hannes Peyper Bozwana namens die firma in 2012 in Welkom ontmoet. “Te alle tye tot sy afsterwe was Bozwana die baasbrein agter die klaer (Tsoga),” lui die dokument.

 

Volgens Peyper vorm die R1 miljoen deel van betalings van R42 miljoen wat op Bozwana se versoek gemaak is. Dit sluit ook in R23,7 miljoen wat aan Bozwana self betaal is, en nog R17,3 miljoen aan die regsfirma.

Peyper het aan die medie gesê hy het sekere betalings van die trustrekening gemaak op Bozwana se bevel nadat Tsoga die skikking ontvang het. Hy kon egter nie enige betalings onthou wat vir Mbalula bedoel was nie.

Bozwana is dood toe ’n groep skieters op hom en ’n sakekennis losgebrand het terwyl hulle in Pretoria gery het. Hy was in dié stadium betrokke by ’n uitgerekte stryd met die provinsiale regering oor die hospitaaltender.

ANC =Moord, korrupsie en oneerlike transaksies

Ongelukstoneel waar Wandile Bozwana, ’n sakeman van Noordwes wat in Oktober 2015 in Pretoria doodgeskiet is.

Die departement van openbare werke het in 2010 die boukontrak beëindig nadat Tsoga se vennoot in die projek, Ilima Projects, gelikwideer is, en Tsoga nie die nodige gradering van die boubedryf gehad het nie. Tsoga het dus ingestem om die kontrak te beëindig in ruil vir ’n skikking van R23 miljoen. Dié bedrag het danksy rente later tot R50 miljoen gestyg.

Ten tyde van Bozwana se dood is dit wyd bespiegel dat die skynbare sluipmoord dalk met staatstenders verband gehou het. Bozwana was ook bekend as ’n finansier van die ANC.

Mbalula het ’n toespraak gelewer by Bozwana se begrafnis en het glo verwys na finansiële voordele van sy vriend. “Hy was ’n vrygewige man. Hy het sy geld gedeel met mense, insluitend musikante. Hy was een persoon wat ek geldelik kon misbruik, en soms vir politieke redes,” het Mbalula volgens die Sunday Times by die gedenkdiens gesê.

Hasane het gesê Bozwana “was die minister se vriend, soos julle in jul verklaring aandui”.

Die parlement se register van lede se sakebelange van 2010 tot 2016 het geen betalings getoon wat aan Mbalula gemaak is deur Boswana, Tsoga of enige ander maatskappy wat aan Bozwana verbind is nie.

Mbalula het ook nog geen geskenke of donasies gemeld wat verband hou met sy reis na Las Vegas nie.

Molefe en sy woordvoerder, Lulu Ndevu, het nie reageer op verdere navrae nie.


 

Enjoyed this post? Share it!