ANC-oorheersde parlement faal mense van Suid-Afrika oor staatskaping

Die parlement van Suid-Afrika moet die land se burgers beskerm teen vergrype soos staatskaping. Hierin het die huidige ANC-oorheersde parlement die publiek van die land gefaal, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die parlementêre debat oor staatskaping en die regering se verantwoordbaarheid gesê een van die steunpilare van ʼn demokrasie is die skeiding van magte. Daardie skeiding is daar om te verseker dat die wetgewende gesag die uitvoerende gesag verantwoordbaar hou.

“Sou ons sê hierdie parlement is verantwoordelik om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou, dan moet ons in gedagte hou dat ons as parlementslede verantwoordbaar is aan die kiesers en belastingbetalers van Suid-Afrika.
“Ons word hier gekies om aan die belastingbetalers te sê ons sal toesien dat daar op ʼn verantwoordelike wyse omgesien sal word na jou swaarverdiende belastinggeld.

“Staatskaping vind nie oornag plaas nie. Dis ʼn lang proses. Dit begin wanneer korrupsie toegelaat word. En korrupsie in Suid-Afrika is toegelaat en het reeds begin onder die bewind van die voormalige president Thabo Mbeki.
“ʼn Voorbeeld is die voormalige nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi. Hoe lank is daar nie gewag voordat teen hom opgetree is nie? Dit het geëskaleer tot so ʼn mate dat ons vandag nie van miljoene rande in korrupsie praat nie, maar van miljarde.

“Opposisiepartye het al male sonder tal in hierdie raadsaal gekom met vrae en mosies om van die regering te vra wat hy doen oor korrupsie. Tot nou was daar geen antwoord nie. Die ANC-regering skuld die mense van Suid-Afrika ʼn verskoning,” sê dr. Groenewald.


Enjoyed this post? Share it!