ANC regering wil nie uit foute van die verlede leer – mynbedryf is nie ‘n onuitputlike bron van rykdom

Die regering se Mynbouhandves wys weer dat dié ANC-regering nie uit foute van die verlede wil leer nie. Die mynbou was dekades gelede die enkele groot bedryf waarop Suid-Afrika se ekonomie gebou is. Sedertdien het mynbou se rol al hoe kleiner geword namate ander bedrywe, soos vervaardiging en finansiële dienste, gegroei het.

Suid-Afrika se mynbedryf het die internasionale opbloei in die kommoditeitsbedryf in die 2000’s weens ’n militante arbeidsmag en staatsinmenging misgeloop. Van die internasionale mynkonglomerate het hulle stelselmatig onttrek, want waarom moet ’n mens so sukkel as daar beter geleenthede in Suid-Amerika of in die res van Afrika is waar ’n verwelkomende omgewing vir beleggingskapitaal geskep word?

Al spring Malusi Gigaba, minister van finansies, deur hoeveel hoepels om te wys hy wil die ekonomie laat groei, gaan hy niks regkry nie terwyl hy kollegas het soos Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, wat aan die ander kant juis versperrings oprig wat beleggingskapitaal wegkeer.

Dis asof die regering die naïewe idee het dat die mynbedryf ’n onuitputlike bron van rykdom is. Helaas is die minerale onder die grond niehernubare bronne wat stelselmatig uitgeput word. As iets beter op tegnologiese vlak opdaag, kan sulke bates onbenut in die grond bly.

Natuurlik moet swart Suid-Afrikaners hul regmatige deel van die land se minerale rykdom kry. Die volhoubaarste manier om dit reg te kry, is om ’n vrye mark te skep waarin swart mynbou­entrepreneurs kan gedy.

As die handves die bedryf kunsmatig in ’n ondoeltreffende gietvorm wil dwing, sal die kapitaal vlug. As die regering die gevestigde rolspelers in die bedryf met opset wil uitstoot om sy droom van nasionalisering te bewaarheid, moet hy besef hy baan die weg vir mislukking.

Selfs swart mynboubase kla oor die jongste vereiste dat 1% van die myn se omset jaarliks eers aan swart aandeelhouers uitbetaal word.

Dit klinkgoed, maar met groeiende arbeids- en ander bedryfskoste en dun winsmarges is omset nie ’n sinvolle plek om room af te skep nie.

In die lig van die ekonomiese werklikhede sal Zwane moet herbesin.

Bron:  Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!