ANC regime stof Das Kapital af om swart eenheid te bou

Die ANC sal glo die media inlig oor wat die afgelope vier dae by die party se beleidskonferensie in Johannesburg bespreek is.

Die voorsitters van subkomitees het onder meer grondgryp op die Zimbabwe-manier, met die fokus op onteiening en markonverwante vergoeding bespreek in ‘n ekonomiese klimaat wat juis nie om hierdie “oplossings” vra nie.

Marxistiese begrippe soos “ekonomiese transformasie” wat daarop gemik is om “monopoliekapitaal” dmv radikale stappe aan te vat, is klaarblyklik deel van die party se beplanning. Monopoliekapitaal sal egter baat by die party se beleid terwyl die wit middelklas – of wat daarvan oor is – gaan vou.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe sê hy is tevrede met die “kwaliteit” van debatte by die party se nasionale beleidskonferensie, wat Vrydag by Nasrec in Johannesburg begin het.

Mantashe sê wanneer afgevaardigdes van mekaar verskil, “debatteer” hulle en probeer mekaar van hulle standpunte oortuig. Debatte is egter totaal vreemd aan die Afrika-kultuur; dit gaan immer oor konsensus.

Hy sê dit is positief dat jong ANC-lede oor komplekse kwessies “debatteer” nadat hulle hulle “eie navorsing” gedoen het. Die “eie navorsing” lyk meer soos ‘n ou afgeleefde stelletjie gemeenplase wat die lede uit Marx se Das Kapital vertel is.

Mantashe is waarskynlik meer tevrede dat daar swart eenheid is om wittes van hul bates te vervreem sonder vergoeding.

Die ANC het Maandag erken dat hy die swakste is sedert die party in 1994 beheer van die land oorgeneem het. Hy het ook erken dat die geskiedenis al bewys het dat bevrydingsbewegings dikwels na 20 jaar verswak en verkrummel.

Die antwoord daarop blyk nou te wees dat die party ideologies gaan ingrawe en hul kiesers gaan opsteek met anti-wit slagspreuke. Daarin word die ANC gerugsteun deur die DA, AgriSA, RSG, Solidariteit en Afriforum wat almal ewe hard probeer om tegemoetkomend liberaal te wees.

In die Noord-Kaap het die ANC aangedui dat hulle enige stappe sal ondersteun om eenstemmigheid te bereik oor wie president Jacob Zuma as leier van die regerende party moet opvolg. Die Zoeloe-faksie binne die ANC sal nie toelaat dat die leierskapsverkiesing in Desember bestrede is nie, alhoewel die res, veral in Gauteng ‘n wig probeer indryf teen die etniese oorheersing van die Zoeloes.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa wil die voormalige voorsitter van die Afrika Unie kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma in die verkiesingstryd uitdaag, maar daar is eensgesindheid onder die Zoeloes dat hy uitgehou moet word. Ramaphosa se kanse is in elk geval skraal want hy het geen steun onder swart kiesers nie.

Die ANC in Kwa Zulu-Natal stel voor dat die twee kampe met formele onderhandelings moet begin om te keer dat ‘n leierskapstryd die party verder verdeel. Die voorsitter van die ANC in die Noord-Kaap, Zamani Saul, sê die verkiesing gaan baie moeilik wees as die party verdeeld is.

Bron: Praag


Enjoyed this post? Share it!