ANC tjank oor Gupta verlies

gupta-cartoon

Die wegvlug van die Gupta’s en die moontlike verlies aan werksgeleenthede wat na bewering gepaard gaan met hulle afwesigheid in die land, het die ANC en sy kommunisties gesinde vennote letterlik soos ’n wrede draak laat vuur blaas.

Die vertrek van die Gupta’s word voor die deur van die vier groot bankiers in die land gelê wat een na die ander besluit het om bande te breek met die omstrede miljoenêrs.

Die leiers van die alliansie kon nie genoeg gal braak sonder om die blaam terug te voer na die bankiers wat uit die apartheidsera kom om anderskleuriges te benadeel nie.

Hulle reken die verbreking van die banke se verbintenis met die Gupta’s is uiteindelik as gevolg van hulle vriendskapsbande met die land se president.

Die banke het glo nie daaraan gedink dat meer as 7000 mense dalk sonder werk kan sit as die Gupta ondernemings besluit om hulle ankers te lig nie.

Cosatu het die banke se optrede bestempel as ’n “aanstellerigheid” wat grens aan roekeloosheid, en eis dat die banke hulle optrede moet verduidelik.

Verskeie ontleders is van mening dat die Gupta’s se omstredenheid, en hulle bedenklike handelspraktyke toegeskryf kan word aan die vriendskapsbande met die land se president.- Vryburger

Enjoyed this post? Share it!