ANC vra vir skuldvergifnis vir werkloses

Die ANC wil vra vir ’n eenmalige “skuldvergifnisprogram” vir mense wat hul werk verloor.

“Ons wil nie die hele ekonomie in duie laat stort nie,” het Joan Fubbs, ANC-LP en voorsitter van die ANC-studiegroep oor handel en nywerheid, by navraag gesê.

Die fokus gaan grootliks op onverantwoordelike leners wees.

Sy het Vrydag in ’n verklaring gesê die onlangse afname in kommoditeitspryse en “ander negatiewe wêreldwye faktore het die Suid-Afrikaanse ekonomie negatief geraak” wat daartoe lei dat verskeie sektore van die ekonomie werkers moet aflê.

ONS WIL NIE DIE HELE EKONOMIE IN DUIE LAAT STORT NIE.

Joan Fubbs

“Die aflegging van werkers het ’n impak op hul vermoë om die krediet wat hulle by banke en ander uitleners geleen het, terug te betaal.”

Sy sê baie lae-inkomste werkers het ook nie bates nie.

“Baie lae-inkomste werkers wat ontslaan is het ongesekureerde en korttermynlenings. Die ANC is bekommerd oor die groei in ongesekureerde en korttermynlenings aan lae-inkomste verbruikers in ’n kredietmark waar die helfte van die verbruikers sukkel om hul lening terug te betaal.”

Daarom vra die ANC vir ’n eenmalige skuldvergifnisprogram om alle afgelegde werkers te help.

“Oorweging moet daaraan geskenk word om die oorskotte van regeringsentiteite te gebruik en om leners aan te moedig om vrywillig aan die program deel te neem.”

Vir leners wat krediet onverantwoordelik toegestaan het, het Fubbs nie veel simpatie nie.

“Dit is soos om te sê jy moet my boete betaal omdat ek oor ’n rooi lig gery het.”

Fubbs meen ook die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) het nie genoeg tande nie. Sy sê die reguleerder moet versterk word.

“Afgelegde werkers se lenings moet deur die Nasionale Kredietreguleerder ondersoek word om dié wat roekeloos toegestaan is te identifiseer,” lui Fubbs se verklaring.

“Ander reguleerders, plaaslik en internasionaal het soortgelyke magte.”

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, gaan nou met ’n wye konsultasieproses begin om die moontlikheid van ’n skuldvergifnisprogram te ondersoek en die wetgewing aan te pas om die NKR se magte te versterk.

Fubbs het benadruk dat dié plan nie daaroor gaan om verantwoordelike leners te straf nie, maar om onverantwoordelike leners vas te vat en weerbare mense te beskerm.

Bron – Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!