Annatjie Myburgh se lyk gekry

Vermiste ouma van Witrivier se lyk gekry

“Ons gesin en familie is stukkend!” sê haar seun, Wendell. “Ons gaan mamma baie mis. Sy is nou op ’n beter plek saam met Jesus en sing in sy koor.”

“Ek was in ’n stadium bitter,” het haar man, ook Wendell, gesê kort nadat hy gehoor het sy vrou is dood gevind. “Maar ek is nie kwaad nie. Dis gedane sake. Nou moet ons vorentoe kyk ter wille van Annatjie.”

Sy het Woensdag omstreeks 07:00 vermis geraak nadat sy by die hek van hul kleinhoewe op Curlewis, Rocky’s Drift, vermoedelik gekaap en ontvoer is.

Die polisie het glo Saterdagimddag ’n vrou in ’n trustgebied naby Hazyview in verband met Annatjie se verdwyning in hegtenis geneem en ondervra.

Die vrou het glo laat blyk dat haar kêrel meer oor die saak weet. Die polisie het hom omstreeks middernag by sy huis gaan soek, maar hy was nie daar nie. Hulle het hom uiteindelik in ’n kroeg gekry, waar hy glo gesit en bier drink het, en hom toe in hegtenis geneem.

Volgens bronne na aan die ondersoek het die man aanvanklik ontken dat hy iets van die voorval af weet.

Hy het glo later by die polisiekantoor in Witrivier erken hy was by die voorval betrokke en het toe die plek aan die polisie gaan uitwys waar Annatjie se lyk gelê het. Dit was langs ’n bospad, sowat 1,5 km in die plantasie in.

Die plek is sowat 7 km van die Casterbridge-sakesentrum, waar daar Saterdagoggend ’n gebedsdiens vir Annatjie gehou is.

Dit is in hierdie stadium nie bekend hoe sy dood is nie, sê sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder.

Annatjie, wat in die Laeveld as “tannie Absa” bekend gestaan het, omdat sy jare lank vir dié bank gewerk het, se wit Pajero is later in die Kabokweni-woonbuurt buite Witrivier gekry.

Forensiese deskundiges is besig om haar motor vir leidrade te fynkam.

“Tannie Annatjie was ’n simbool van diensbaarheid en het selfs in haar afwesigheid ’n dorp en gemeenskap bymekaar gebring,” sê Bruce Macaulay, ’n vriend van die Myburgh-gesin.

Die polisie sê ’n tweede verdagte is nog soek.

Benewens haar man en seun laat Annatjie ook ’n dogter, Marlize Rossouw, en kleinkind Aiden agter.

Bron: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!