Anti Afrikaans onluste by Universiteite bewys die kul en modus operandi agter Sharpville onluste


Vanaand kyk ons na ‘n paar artikels onder andere deur Solidariteit en Afriforum oor die debakels by die Universiteite die afgelope paar weke en dae.

Vrae wat gevra word:

  • Is die die herhaling van die Sharpville en Soweto onluste wat onder die dekmantel van opstande agv onderrig in Afrikaans geskied het?
  • Is hierdie die voorloper van anargie en ‘n revolusie?
  • Daar is selfs gerugte dat dit voorbereidings werk is vir die sogenaamde Uhuru Volksmoord?
  • Wie se geld is gebruik vir die oprigting en instandhouding van hierdie fasiliteite?
  • Die EFF dreunsang Kill the Boer Kill the Farmer, Die Land se president en partyleiers doen dieselfde op Internasionale TV, sien niemand dit nie of is dit omdat niemand verstaan wat daar gesing word nie omdat dit in Afrika tale gesing word?
  • Die onkunde dat Afrikaans die taal van die onderdrukker en apartheid is terwyl dit Groot Britanje was wat apartheid ingestel het

 

Atikel 1:

Nzimande krabbel nou terug oor moedertaalonderrig

Die VF Plus verwelkom die positiewe uitsprake van die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en dat studente van ander tale benadeel word omdat hulle met Engels sukkel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.

Terselfdertyd is daar groot ontevredenheid in die Wes-Kaap onder studente van die Elsenburg-landboukollege oor ʼn opdrag van die DA-regering dat onderrig by die kollege net in Engels sal geskied tot ʼn oplossing gevind word vir die protes van ʼn handjievol swart studente teen Afrikaanse onderrig.

 

Mnr. Darryn Jacobs, waarnemende adjunkdirekteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste van die Wes-Kaapse DA-regering, het in ʼn skrywe opdrag gegee dat onderrig net in Engels sal plaasvind totdat ʼn oplossing vir die swart studente se griewe gevind is.

Adv. Alberts sê dit is bekend dat die VF Plus die kwessie van moedertaalonderrig al jare lank dryf, en vir jare hieroor met die regering en Nzimande gestoei het.

 

“Die minister het verlede maand nog in antwoord op parlementêre vrae van myself oor die aangeleentheid aangevoer dat Engels die voorkeurtaal in onderwys sal bly.

Hy het toe oor die kwessie gesê: ‘Engels is ʼn internasionale taal wat gebruik word in hoër onderwys regoor die wêreld.

Dit is prakties die aangewese hooftaal om te gebruik in Suid-Afrikaanse instellings vir onderrrig en studies’.”

 

“Hierdie week het hy luidens ʼn Netwerk24-berig gesê studente moet in hul moedertaal onderrig word omdat hulle dikwels in Engels sukkel.

Die VF Plus glo dat die minister en die regering daadwerklik besef het dit het ʼn groot rol gespeel in die swak vertoning van Suid-Afrika se onderwys-prestasie op alle vlakke oor die laaste jare, en ons verwelkom dit. Daarom is dit jammer dat die DA juis nou diskrimineer teen meer as 150 Afrikaanse studente ter wille van ʼn handjievol wat aandring op Engels. Die VF Plus sal indringend met die Wes-Kaapse LUR vir landbou vergader om hierdie aangeleentheid op te klaar,” sê adv. Alberts.

Die Voorblad

Artikel 2

LUR van Onderwys probeer Politieke naam maak – Verdraai feite

Die LUR van Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, probeer om ‘n politieke naam vir homself te maak maar intussen verdraai hy feite van die verlede waaroor hy geen kennis het nie.

Dit volg nadat die betrokke LUR tydens ‘n sitting van die Gauteng Wetgewer op 1 September 2015 goed kwytgeraak het wat onwaar en verdraai is.

Die LUR het aangekondig dat die huidige regering die enigste regering is wat asbes-klaskamers verbied het en dat slegs swart skole in die vorige bedeling asbes-klaskamers gehad het.

Die LPW van die VF Plus in Gauteng, mnr Philip van Staden, het in reaksie hierop gesê dat die LUR sy feite agtermekaar moet kry aangesien blanke skole in die vorige bedeling ook asbes-klaskamers gehad het.

“Beide die laer- en hoërskool waarin ek in Pretoria was het gebruik gemaak van asbes-klaskamers.

Ons het ook as leerlinge in die somer gesit en sweet en die ysige winters in dié betrokke klaskamers trotseer.

Die LUR probeer enige strooihalm aangryp om vir homself  ‘n politieke naam te probeer maak maar intussen maak hy gebruik van onwaarhede wat tot gevolg kan hê dat rassehaat aangeblaas kan word.”

 

Die VF Plus waarsku die LUR om hierdie soort van wanhopige aankondigings te staak en eerder sy aandag op sy departement te vestig wat besig is om in Gauteng in duie te stort.

Daar moet eerder na leerders se belange omgesien word in plaas van om skole aan te vat oor kamstige rassisme en die verandering van Afrikaanse skole se name.

 

“Skole in Gauteng is besig om in oorlogsones te verander net omdat die LUR weens politieke redes inmeng by sake van skole en nie daarop gemik is om gehalte onderwys aan leerders in Gauteng te lewer nie.

Politieke ambisie is gevaarlik wanneer die saak versaak word en die ‘eie ek’ besig is om in te tree”.

 

Die VF Plus spreek die hoop uit dat die LUR tot sy sinne sal kom en hierdie soort van praktyk dadelik sal staak.

Die Voorblad

 

Artikel 3

Elsenburg Betogers Sing Kill The Boer

 

’n Betoger en ’n nie-betogende student het gister slaags geraak op die kampus.

Die Elsenburg-landboukollege in die Wes-Kaap gaan stappe doen teen studente wat hulself tydens betogings op die kampus aan geweld skuldig gemaak het.

 

Volgens Petro van Rhyn, Elsenburg se woordvoerder, fynkam die kollegebestuur tans die beeldmateriaal om te kyk of hulle studente kan identifiseer. Elsenburg het ’n gedragskode, en daar sal beslis opgetree word teen studente wat dit skend.

Betogings het gister weer op die kampus voortgegaan nadat daar Dinsdag ’n bakleiery tussen betogers en studente ontstaan het.

Studente is tydens die skermutseling met sambokke geslaan. Gister se betoging, wat begin het as protes teen onderrigtaal is gekenmerk deur oënskynlike ras-ondertone toe die groep oorwegend swart betogers “Kill the boer” gedreunsing en na oorwegend wit studente gewys en hulle vinger oor hul keel getrek het. Baie van die betogers is nie studente aan die Elsenburg-landboukollege nie.

Humeure het vlugtig opgevlam toe ’n student en ’n betoger handgemeen geraak het nadat die betoger op die masjienkap van die student se motor gesit het.

Die balju het vroeër gepoog om ’n interdik aan agt respondente, almal betogende studente, te beteken. Hul het egter geweier om dit te aanvaar.

Die interdik verbied die respondente om hul medebetogers tot geweld aan te hits, en om met die kollege se akademiese aktiwiteite in te meng.

Klasse en toetse het gister op Elsenburg voortgegaan, maar daar is steeds deurentyd langs die klaskamers en toetslokale gedreunsing en gedans. Petro verwag dat klasse vandag sal voortgaan – Netwerk 24

Artikel 4

 Wes-Kaapse SAPD laat anargie op Elsenburg toe

AfriForum konsulteer môreoggend met sy regspan om ʼn aansoek teen die SAPD in die hof te bring.

Dít volg na die gewelddadige betoging deur lede van die EFF en ʼn klein groepie studente by die Elsenburg-landboukollege waartydens nie-betogende studente met swepe en sambokke geslaan is.

“Die polisie was op die toneel, maar het niks gedoen om wet en orde te handhaaf, of nie-betogende studente te beskerm nie.

Deur toe te kyk hoe gewelddadige onluste toeneem en vererger, laat die SAPD toe dat anargie op die kampus heers,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“Die SAPD en Elsenburg se sekuriteit is nie eers bevoeg om ʼn klein groepie betogers se optrede hok te slaan nie.

Indien die polisie nie optree nie, sal AfriForum sy veiligheidstrukture nader om self die studente en die kampus te beskerm. Die SAPD se onbevoegdheid is weereens ʼn bewys dat gemeenskappe self moet optree.”

Cameron sê verder dat die kollege se hoof, mnr. Marius Paulse, se stilswye daarop dui dat hy die EFF se ideale ondersteun.

deur Mariska Batt, Die Voorblad

Artikel 5

Elsenburg-studente deur betogers aangerand

AfriForum Jeug het vandag ’n video bekend gemaak wat wys hoe studente van die  Elsenburg-landboukollege deur betogende studente en lede van die EFF met swepe en sambokke aangerand word.

 

Op die video kan ook gesien word hoe die studente die lede van die EFF van die perseel verwyder.

 

Dié video is vanoggend tydens ’n onwettige en gewelddadige betoging, wat gister begin het, deur een van die studente geneem en aan AfriForum Jeug gestuur.

 

AfriForum Jeug het vandag ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy gekontrakteer om die veiligheid van die nie-betogende studente te verseker, en is ook besig met voorbereiding om ’n dringende hofinterdik te kry.

Indien die interdik sou slaag, sal die kollegebestuur verplig wees om teen die betogers op te tree. Betogers sal ook gearresteer word.

Regsoptrede word ook teen die polisie oorweeg, wat tydens die voorval op die toneel was, maar in hul plig versuim het om orde te handhaaf en studente te beskerm.

AfriForum Jeug ondersteun nie-betogende studente in hul reg om hulself te verdedig en hul kampus te beskerm.

AfriForum Jeug het gister berig dat klasse by die Elsenburg-landboukollege tot verdere kennisgewing opgeskort is nadat studente dit vir die soveelste keer ontwrig het.

EFF-lede wat met minibusse aangery is, is saam met ’n klein groepie studente wat by Elsenburg studeer aan die stuur van dié betoging.

Die optoggangers het klasse se deure gister met kettings en slotte gesluit en medestudente glo in die gesig gespoeg en gevloek. Uitsprake soos:“You f****ng white b*tch, what are you doing here?” is glo ook deur die betogers geuiter. Betogers was gister reeds met sambokke en swepe gewapen.

“Baie van die betogers is nie studente aan die kollege nie, ons kan nie verstaan hoekom die EFF-lede elke keer op kampus toegelaat word nie. Die bestuur het beheer oor die kollege verloor,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Artikel 6

Die ongelukkigheid oor die gebeure van die afgelope weke het tot so ʼn mate uitgekring dat beswaarde ouers en studente ’n brief aan Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, gestuur het.

31 Augustus 2015 Aan die Premier (Mev Helen Zille) Wes-Kaap Regering

Geagte mevrou ONTWRIGTING VAN KLASSE EN INTIMIDASIE VAN STUDENTE : ELSENBURG LANDBOU KOLLEGE – STELLENBOSCH

  1. Vanoggend om 07:00 het ‘n groep van ongeveer 25 tot 30 persone wat studente aan hierdie instelling is en wat hulself as lede of ondersteuners van die Economic Freedom Fighters (EFF), voorgedoen het met ontwrigtende aksies op die kampus begin.
  2. Aksies wat deur hierdie groep gevoer is, en steeds aan die orde is, sluit onder andere die volgende in:

2.1 Die eetsaal is afgesluit deur die toegansdeure toe te maak en die kos is na die kombuis teruggedra. Studente is daardeur verhinder om te eet;

2.2 Alhoewel studente wat binne was en wou uitgaan, toegelaat is om dit te doen, is die binnekoms van enige studente geweier; 2.3 Die slotte aan die deure van lesinglokale is geknip en met ander vervang en so is toegang tot lesinglokale verhinder;

2.4 Dosente wat by lesinglokale opgedaag het is verjaag;

2.5 Rassistiese slagspreuke is en word deur die groep geskree; en

2.6 ‘n Intimiderende optrede is deurentyd aanwesig, wat ook ‘n algmene gees van intimidasie lewendig hou.

  1. Hierdie optrede is in elke wesenlike opsig ‘n aantasting van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Verdere, die handelinge van hierdie groep studente sal nie net binne die strafreg tuisgebring kan word as kriminele optrede nie, maar maak ook ‘n verbreking van die dissiplinêre reëls van Elsenburg as instelling uit.
  2. Dit is nie eerste optrede van hierdie aard nie. Gemagtigde studente aan Elsenburg, wat oor die kleurgrens heen strek, en wat die verre meerderheid van die studente uitmaak, het reeds voorheen, deur hulle verteeenwoordigers, met die bestuur van Elsenburg hieroor in gesprek getree. Hulle bede was vir ingryping, wat beskerming, voorkoming en dissiplinêre optrede ingesluit het.

4.1 ‘n Ooreenkoms is bereik en wel op die gronde dat daar nie uit die vorige voorvalle dissiplinêre optrede sal voortspruit nie, aangesien daar ‘n ‘onafhanklike fasiliteerder’, aangestel is en die omstandighede tans ‘sensitief’ is.

2 5. Wat die moontlike politieke verbintenis, indien enige, en insgelyks motivering van ‘n klein groep studente kan wees vir ‘n aandrang op ‘n totale aanbod van Engels as onderrigtaal, terwyl meer as 70% van die studente Afrikaanstalig is, is onbekend.

Bestuur het ongelukkig op ‘n vroeë stadium in die hantering van die eis om Engels as enigste onderrigtaal in te stel fouteer deur eensydig daaraan toe te gee.

Na beswaar van die meerderheid studente is die status quo herstel en die pad van behoorlike ondersoek en oorweging is ingestel. Waarmee hulle tevrede was.

Na die beste van kennis is dit tans die situasie of minstens veronderstel om te wees.

  1. Die onregmatige, en in bepaalde opsigte, onwettige optrede van hierdie groepie studente het onder andere die volgende uitwerking wat gegronde rede vir ersntige beswaar en ongelukkigheid skep:

6.1 Die reg van studente om te studeer;

6.2 Om vrylik aan assosiasie op kampus deel te neem;

6.3 Om die noodsaak en genietinge van voedsel te hê;

6.4 Om nie aan rassisme blootgestel te word nie;

6.5 Om nie aan intimidasie blootgestel te word nie;

6.6 Om nie in vrees te wees vir die potensiaal van geweld nie; en

6.7 Om vryheid van beweging te mag hê in gebiede waar studente vrylik mag beweeg .

  1. Gegewe die hoë koste van studie, die verwagting om te kan studeer onder omstandighede wat eie aan ‘n ordentlike akademiese instelling is, asook die verwagting dat ‘n owerheid in beheer van so ‘n instelling omstandighede moet skep om dit moontlik te maak, word respekvol op die volgende aangedring:

7.1 Dat u as premier sal ingryp om die situasie op Elsenburg op ‘n behoorlike voet te plaas;

7.2 Dat die bestuur op Elsenburg ‘n neutrale standpunt sal inneem en volhou;

7.3 Dat die bestuur deurlopende en behoorlike kommunikasie met die studente oor die ondersoek en oorweging van die taalbeleid sal instel en volhou; en

7.4 Dat die bestuur gedwing word om hierdie onredelike optrede van sekere studente, wat die uitwerking het dat daar tans nie onderrig aangebied word nie aan te spreek, en wel deur die volgende:

7.4.1 Onmiddellike stappe ter voorkoming van soortgelyke optrede; en

7.4.2 Die instelling van dissiplinêre aksie teen die belhamels wie se gedrag op geen wyse regverdig kan word nie.

  1. Mevrou, ons het tans geen ander keuse as om ons op u te beroep nie, en ons vertrou dat u begrip sal hê vir ons bekommernis en beswaar. Baie dankie en groete. Van bekommerde en ontevrede ouers en studente.

Artikel 7

DA vertrap Afrikaanssprekendes se regte by Elsenburg

Die VF Plus-jeug in die Wes-Kaap beskou die opdrag van die DA-regering dat onderrig op die Elsenburg Landboukollege net in Engels geskied tot daar ʼn oplossing gevind word vir swart studente se teenkanting teen Afrikaanse onderrig, as absoluut onaanvaarbaar, sê Misha-Lamé Schoeman, VF Plus-jeugleier vir die Wes-Kaap.

Mnr. Darryn Jacobs, waarnemende adjunkdirekteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste in die Wes-Kaap, het in ʼn skrywe opdrag gegee dat tot die saak oor taal opgelos is, alle onderrig net in Engels sal plaasvind.

 

Wit studente het hul ontevredenheid hieroor uitgespreek, en voer aan dat hulle juis by dié instelling studeer aangesien daar ʼn beleid van dubbelmedium-onderrig bestaan, maar daar is nie ag geslaan op hul klagtes nie.

Me. Schoeman sê dit is uiters onregverdig dat die meerderheid studente, wat Afrikaanssprekend is, se belange geen gewig dra nie.

 

“Wat by Elsenburg gebeur, is ʼn vertrapping van die Afrikaanse studente se grondwetlike regte, en die DA-regering in die provinsie sal moet verduidelik waarom hulle die opdrag hiervoor gegee het.

Beteken die regte en belange van Afrikaners dan niks nie? Die VF Plus beskou hierdie optrede van die DA as presies dieselfde as die ANC se stelselmatige uitwissing van Afrikaans as onderrigmedium regoor die land.”

 

“Die VF Plus sal daarom indringend met die Wes-Kaapse LUR vir landbou vergader om hierdie aangeleentheid te bespreek en sal daarop aandring dat Afrikaans as een van die tale van onderrig aan die kollege behoue moet bly,” sê Schoeman.

Die Voorblad

 

Artikel 8

Ingryping dringend nodig teen geweld op SA-kampusse

Verskeie universiteitskampusse het die afgelope weke onder gewelddadige protesoptogte deurgeloop, terwyl onderrig ontwrig en klasse afgelas  moes word.

Volgens onderwysontleders en -kenners is daar waarskynlik uiteenlopende redes vir dié tendens, terwyl die groepe moeilikheidmakers, wat hoofsaaklik uit EFF-lede bestaan, ’n gebrek aan transformasie as hoofrede aanvoer.

Daar was die afgelope weke protesoptogte by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch, waar sommige studente ook met stokke en swepe aangerand is, die Noordwes-universiteit, Wits,  Maties en die Tshwane-universiteit van Tegnologie.

AfriForum Jeug het sterk kapsie gemaak oor die wanorde wat op kampusse aan die orde van die dag is en waar studente se reg op onderrig ondermyn word.

“Universiteite moet begin om diegene wat reëls en die gedragskode op kampusse oortree, vas te vat. Daar is geen regverdiging vir ongedissiplineerde gedrag nie,” meen Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die organisasie het herhaaldelik prober ingryp by die situasie op Elsenburg nadat daar ook op studente gespoeg en gevloek is en klasse met kettings toegesluit is.

Die bestuur van die instelling het uiteindelik na ernstige geweld ingegryp en ’n dringende interdik teen molesmakers gekry. ’n Klein groepie studente het betoog oor hul beweerde ontevredenheid met Afrikaans was naas Engels as onderrigmedium gebruik word.

By Wits en TUT was daar ook konflik tydens die studenteraadverkiesings. By TUT het Julius Malema, EFF-leier, self studente kom toespreek en hulle aangemoedig om vir die EFF-kandidate te stem

Hoewel dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, die kwessie van transformasie op kampusse vandeesweek in die parlement geopper het en die bestuur van Maties spesifiek voor stok gekry het, is daar ontleders wat meen hy skitter in sy afwesigheid om die probleme, veral rondom die uitvoerbaarheid van meertaligheid, te takel.

Belinda Bozzoli, die DA se skadu-minister van hoër onderwys, het by navraag gesê finansiering is die kernoorsaak van studente-protesaksies  in Suid-Afrika. “Studente wat finansieel sukkel, is veral kwesbaar en word maklik opgesweep word deur politiese studenteverenigings soos die EFF en Sasco.”

Sy meen studente ervaar dat die EFF hul sosiale omstandighede verstaan en hulle ten volle sal verteenwoordig en bemagtig.

Bozzoli het ook klem gelê op die departement van hoër onderwys wat volgens haar nie genoeg aandag gee aan transformasie en studiefinansiering by universiteite nie.

“Talle studente maak staat op die nasionale studente finansieringshulpskema (NSFAS) en daar is nooit genoeg geld beskikbaar nie.”

Bozzoli meen ook dat ’n groeiende “swart bewussyn” en onlangse veldtogte soos die #rhodesmustfall tot die rewolusionêre tendense op kampusse aanleiding gee.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, meen daar is ’n georganiseerde aanslag wat boonop ook druk op die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal plaas.

Volgens Mulder moet meer gefokus word op die ontwikkeling van veeltaligheid by instellings sodat meer studente in hul moedertale onderrig kan word.

Hy het die Universiteit van KwaZulu-Natal as voorbeeld voorgehou waar moeite gedoen word om Zoeloe te ontwikkel.

Mulder het gewaarsku dat protesaksies en veldtogte, soos die van groeperings soos OpenStellenbosch, gevaarlike propaganda gegrond op veralgemenings is. “Daar word gepoog om instellings as rassisties uit te beeld en in die proses word Afrikaans elke keer bygesleep.”

Volgens Mulder is daar talle bruin mense wat graag wil hê dat hul kinders in Afrikaans moet studeer.

Oor die rol en impak van studenteverenigings soos die EFF op kampusse, het Mulder gesê tersiêre onderrig is maar net nog een van die terreine waar die EFF, wat teen pres. Jacob Zuma is, glo hulle “bevryding” moet bring. “Hulle gebruik juis kampusse waar jong mense baie beïnvloedbaar is.

Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder van Unisa, meen die onrus op kampusse is bewys dat huidige strukture en beleide nie aan studente se behoeftes voldoen nie.

Volgens hom moet universiteite beter met studente kommunikeer en meer toeganklik wees. “Gewelddadige optrede dui op frustrasie en wys dat kommunikasie nie voldoende is nie. Studente voel uitgesluit.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê studente wat hulle aan growwe oortredings skuldig maak, is nie menseregte-aktiviste nie, maar fascistiese boewe wat ’n rasse-rewolusie en radikale vyandige oorname dryf.

“Ons sal alles moontlik doen om hierdie onregte teen te staan voordat dit verder soos kanker versprei en wêreldinstellings wat oor ’n eeu gebou is totaal verwoes.

“Hierdie afbrekers moet beveg word deur almal wat ’n belang by die voorsiening van gehalte hoër onderwys en Afrikaans as akademiese taal het.”

Die Voorblad


transformation3

 

Enjoyed this post? Share it!