Baba-slagting in Staatshospitale

‘Slaghuis’: Hier kom babas sterf

In Welkom in die Vrystaat noem Ben en Cindy Barnard die Bongani-hospitaal ’n “slaghuis” nadat hulle voorverlede week vir die tweede keer in drie jaar ’n baba verloor het in dié hospitaal, waar vyf babas in Oktober binne een maand dood is.

“ ’n Mens gaan soontoe om dood te gaan,” het ’n bitter Cindy die afgelope week aan Rapport gesê.

 Hierdie twee woedende, hartseer gesinne het nou deel geword van verdoemende statistieke oor die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel, waarin babasterftes ondanks snelle vordering in die mediese wetenskap hardnekkig aanhou styg.

Meer as 22 000 babas is óf dood by geboorte óf sterf elke jaar binne sewe dae in Suid-Afrikaanse hospitale, volgens die jongste verslag van Statistieke Suid-Afrika, wie se syfers tot by 2013 strek.

Dit is meer as 60 babas per dag en verteenwoordig ’n skerp styging sedert 1997, toe 13 000 sterftes aangeteken is.

ELKE JAAR: MEER AS 22 000 PASGEBORENES KOM OM.

Maar nie alle sterftes word aangemeld nie; volgens die Mediese Navorsingsraad (MNR) is meer as 80 000 babas tussen Januarie 2012 en Desember 2013 in staatshospitale dood.

In distrikshospitale word ’n baba van minder as 1 kg elke vyf dae lewend gebore, lui die MNR se verslag getiteld “Saving Babies”. 12% van dié kinders sterf binne die eerste paar dae.

Dr. Robert Pattinson, direkteur van die MNR se strategiese eenheid vir babasorg, sê in die verslag baie sterftes kan voorkom word as behoorlike fasiliteite en opgeleide personeel beskikbaar is.

“Gebrekkige menslike hulpbronne en nalatigheid, soos versuim om ’n pa­siënt te verwys, was die oorsaak van meer as 5% van die sterfgevalle,” sê Pattinson.

“In ’n derde van gevalle waar babas dood is aan hoë bloeddruk is die toestand vooraf opgemerk, maar nie behandel nie. Sommige mediese personeellede reageer ook nie op oproepe nie en behoorlik opleiding skiet tekort.”

Mark Heywood van Section 27, ’n waghondorganisasie oor gesondheidsorg, sê die situasie verbeter nie.

Suid-Afrika se perinatale sterftesyfers is sedert 2009 volgens Heywood onveranderd.

“Dis skrikwekkend omdat die oorsake van dié tipe sterftes taamlik maklik aangepak kan word. Die hoë sterftesyfer onder pasgebore babas kan grootliks toegeskryf word aan swak bestuur en ’n tekort aan mediese personeel in staatshospitale,” sê hy.

Vir die Charles-gesin van Eersterivier en die Barnards sal enige toekomstige ingryping te laat kom.

“Ons wag net dat die dokters bel om te sê ons baba, Connor, is dood,” sê Nicolette Charles (32) terwyl die trane oor haar wange rol.

Sy en Enrico (31) het gister nog gewag op nuus uit die Tygerberg-hospitaal, waar Connor in die hoësorgeenheid om sy lewe veg.

Woensdag reeds het Nicolette Connor se blou klere in die babakamer in hul huis in Eersterivier weggepak, want sy weet dit is verby.

Connor het erge breinskade opgedoen net drie dae nadat hy “fris en gesond” in die Helderberg-hospitaal in Somerset-Wes gebore is.

Hulle glo verpleegsters het ’n “oorgroot verband” om sy kop gesit toe hy fototerapie vir geelsug ontvang het. Connor het gesmoor.

Volgens Enrico was daar net twee broeikaste in die hospitaal. Hy sê in die een was reeds ’n baba met erger geelsug as hul kind. “Hulle het toe ’n tydelike broeikas geprakseer uit ’n babatrollie en ons Connor daarin gesit”.

’n Verpleegster het toe ’n lig hierin gesit en die verband aangebring om Connor se oë te beskerm.

Nicolette sê ’n verpleegster het aan haar gesê om nie die baba te steur nie – sodat hy “gesonder kan raak”. Nicolette het egter na sowat 25 minute besluit om onder die laken in te loer.

Connor was “potblou”.

“Ek het die dokters geroep. Hulle was so 15 minute besig met hom en het hom twee inspuitings gegee.”

Connor is gestabiliseer en per ambulans na die Tygerberg-hospitaal gebring waar hy aan ’n lewensondersteunende masjien gekoppel is.

’n MRI-skandering het Maandag bevestig dat Connor serebraal gestremd is. Woensdag is die masjiene afgeskakel.

“Die dokters het Connor ’n paar dae, dalk ’n week gegee – om te sterf. Hy het nie slukfunksies nie en gaan, as hy oorleef, definitief spasties wees,” sê Enrico. Sy trane loop.

“Hy suffer nou . . . hy veg, maar sy brein is nie meer daar nie. Vir ons is dit nou net om vrede te maak – dat Connor gaan sterf – dat ons êrens weer ’n begin kan maak.”

’n Woordvoerder van die gesondheidsdepartement, Sithembiso Magubane, sê ’n ondersoek word gedoen na die insident. Hy sê die baba is tans in ’n “stabiele toestand”.

Die Barnards van Welkom is woedend.

“Dié hospitaal is ’n slaghuis,” sê
Cindy by die Bongani-hospitaal, waar hul eerste kind in 2013 doodgebore is.

“Ek het myself belowe my vrou sal nie weer in ’n staatshospitaal geboorte skenk nie, maar toe verloor ek verlede jaar my werk,” sê haar man, Ben, ’n elektrisiën.

Drie weke gelede is Cindy se baba, Ethan, ná 15 minute uit haar arms gehaal. Hy het 730 g geweeg.

“Die verpleegster het gesê my seun is dood en het hom by my gevat. Ek moes later ’n vorm teken om toestemming te gee dat hy in ’n krematorium vernietig word,” vertel Cindy.

Maar hy was nie dood nie.

’n Ander verpleegster het sowat
ses uur later vir Ethan in die koue spoel­kamer aangetref en gesien dat hy leef.

“Ons het gedink ons seun is dood, toe kom haal die verpleegster ons by die hospitaal se kafeteria en sê ons moet kom, ons seuntjie leef,” sê Ben.

Toe die egpaar by die waakeenheid vir pasgebore babas kom, het Ethan in ’n babawiegie gelê – toegedraai in linne en met ’n suurstofpypie in sy neus. “Hy was nie eens in ’n broeikas nie,” sê Ben.

“Ons laaitie het geweier om dood te gaan. Hy het gefight.”

Voorverlede Sondag is Ethan dood nadat hy geelsug oorleef het, maar anemie ontwikkel het.

“Hy was die Sondagoggend so styf soos ’n stokkie. Ons vermoed hy het breinskade opgedoen omdat sy brein nie genoeg suurstof gekry het nie,” sê Cindy.

Op sy doodsertifikaat word die oorsaak aangedui as: “Vroeë geboorte.”

Die Barnards het ’n klag van strafbare manslag teen die hospitaal ingedien.

Die polisie in Welkom het aan Rapport bevestig hulle ondersoek die klag.

Die Vrystaatse departement van gesondheid sê hulle ondersoek die voorval, maar dat baie van die betrokke personeellede wat lig op die saak kan werp tans op verlof is.

“Ons het intussen berading beskikbaar gestel vir die familie,” sê Mondli Mvambi, departementele woordvoerder.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!

 
  • Jr Le Roux

    “Hy suffer nou . . . hy veg, maar sy brein is nie meer daar nie. Vir ons is dit nou net om vrede te maak – dat Connor gaan sterf – dat ons êrens weer ’n begin kan maak.”

    ’n Woordvoerder van die gesondheidsdepartement, Sithembiso Magubane, sê ’n ondersoek word gedoen na die insident. Hy sê die baba is tans in ’n “stabiele toestand”.

    DIE BABA HET REEDS BREINSKADE OPGEDOEN DAAR IS NIE MEER HOOP VIR DIE BABA NIE, HOE KAN HY IN ‘N ” STABIELE” TOESTAND WEES ?

    EK KAN DIE VRAAG VRA ” WAAROM IS DAAR NIE VIR DIE MA GEVRA OM TOESIG TE HOU OOR DIE BABA NIE, IN PLAAS DAARVAN IS DAAR VIR HAAR VERTEL OM DIE BABA ONGESTEURD TE LOS” BY ENIGE PROSEDURE WAT GEDOEN WORD AAN ‘N BABA MOET DAAR VOLDOENDE TOESIG WEES .