Bantu Holomisa – Zuma ‘moet sakke so gou moontlik pak’

Kaapstad. – Pres. Jacob Zuma se losbandige en skokkende vermorsing van belastingbetalers se geld oorskry selfs dit wat sommige van die voormalige apartheidspresidente gedoen het.

Hy is ’n verleentheid vir Suid-Afrika en “moet sy sakke so gou moontlik pak”, het Bantu Holomisa, UDM-leier, gister gesê.

Holomisa het gereageer nadat Zuma Woensdag op ’n ANC-saamtrek by die Markteater in Johannesburg na verskeie opposisiepartye gekap het. Zuma het onder meer gesê hy verstaan nie waarom swart mense vir die DA stem nie.

Die DA het Donderdag gesê Zuma se uitlatings wys ras het die ANC se enigste wapen geword omdat sy beleid om mense se lewe te verbeter, misluk het.

Zuma het in sy toespraak ook na die “krimpende” UDM verwys en opgemerk dat Holomisa uit die ANC geskop is voordat hy die UDM gestig het.

Holomisa het gister gesê Zuma moet eerder na die ANC kyk, wat onder sy leierskap die ideale van die bevrydingstryd ondergrawe.

“Wie sou ooit gedink het dat ’n bevryde Suid-Afrika gelei sal word deur ’n twyfelagtige karakter soos hy wat belastingbetalers se geld losbandig en sonder enige berou bestee en wat die destruktiewe gedrag van die voormalige apartheidspresidente skokkend oortref.

“Die ANC se inploffing het ongelukkig daartoe gelei dat openbare en private eiendom in die kruisvuur beland.

“Hoe gouer hy sy sakke pak, hoe beter. Hy is ’n verleentheid vir Suid-Afrika.”

Blessed Gwala, nasionale IVP-voorsitter, het Zuma veroordeel omdat hy na die IVP as ’n “gewese gewelddadige” party verwys het.

“Dit wys duidelik hoe desperaat die ANC is. Dit wys dat die president en sy party niks anders het om aan Suid-Afrikaners te bied nie.”

Gwala het gesê Zuma het geswyg toe ANC-lede hul eie kandidate in die munisipale verkiesing in voorvalle landwyd vermoor en gewelddadig betoog het.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!