Barbare vermoor bejaarde man van Florida-Noord met das tydens huisrooftog

’n Bejaarde man is dood nadat hy Donderdagoggend deur rowers in sy slaapkamer met ’n das verwurg is.

Gert Rheeder (76) se kleindogter, Rynette (22), het op sy lyk in hul huis in Florida-Noord, in die weste van Johannesburg, afgekom nadat sy en haar ouers, Henk en Nelia, teruggekeer het van die winkels.

Rheeder was besig om te pak om sy vervreemde vrou in Pretoria die naweek te besoek toe ’n groep mans hom oorval het.

Volgens Pieter Engelbrecht, Nelia se broer, bly dit ’n raaisel hoe die inbrekers toegang tot die erf gekry het. “Die hek en die deure was gesluit. Hoe hulle ingekom het, weet niemand nie.”

Hy sê toe sy suster en swaer teruggekom het, was die huis deurmekaar en die deur oop. Rynette het haar oupa in sy slaapkamer dood gevind.

Volgens konst. Mayahabo Morata, polisiewoordvoerder, was Rheeder se hande en voete vasgebind en hy het op sy maag gelê.

Rheeder het by die gesin gewoon.

Engelbrecht sê die gesin het die huis vroeg die oggend verlaat en met hul aankoms omstreeks 10:30 was Rheeder se lyk reeds koud.

Volgens Morata is juweliersware en kontant uit die huis gesteel.

Engelbrecht sê dit gaan nie goed met sy swaer ná die dood van sy pa nie.

Die polisie ondersoek huisroof en moord en dit is onbekend hoeveel misdadigers betrokke was.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bron:  Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!