Barbare vermoor bejaarde plaasvrou en laat haar man ernstig gewond tydens aanval in Limpopo distrik

’n 73-jarige plaasvrou is dood en haar 82-jarige man ernstig gewond tydens ’n plaasaanval in die omgewing van Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo.

Robert Peterson en sy vrou, wie se naam nog nie bekend is nie, is Woensdagoggend om ongeveer 08:30 deur vier gewapende mans oorval.

Johan de Beer, die veiligheidsverteenwoordiger van die TLU SA se noordstreek, het gesê ’n plaaswerker, Lizzy Simango, is glo eerste deur die moordenaars oorval.

Minstens twee van die aanvallers het klapmusse gedra.

Simango is met ’n vuurwapen gedreig en gedwing om die rowers na die Peterson-egpaar se huis te neem.

’n Polisiebron het gesê in die stadium lyk dit of die rowers toe die egpaar oorval het en geld geëis het.

“ ’n Struweling het uitgebreek en mnr. Peterson is in die maag en gesig geskiet. Mev. Peterson is in die maag geskiet.”

Die rowers het die geld wat in Peterson se vrou se beursie was, gevat, maar dit is in die stadium onduidelik wat nog geroof is.

Sy is kort daarna dood.

Volgens De Beer is Robert na die Montana-hospitaal in Pretoria geneem waar hy in ’n kritieke, maar stabiele toestand is.

Intussen ondersoek die polisie steeds die toneel waar spoorsnyers van Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie, ook help met die soektog na die moordenaars.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!