Begrafnis sonder lyk – lyk het spoorloos verdwyn

Dít was Saterdag die geval toe die naasbestaandes van Eric Booysen (80) van hom wou afskeid neem.

Booysen is op 7 Junie ­skielik dood nadat hy die vorige aand net olik begin voel het.

Sy begrafnis sou Saterdagoggend op die plaas Bellevue Estate, naby Stellenbosch, plaasgevind het.

Vrydag, ’n dag vóór die begrafnis, kon Booysen se lyk egter nêrens opgespoor word nie.

Volgens Desiree Herbert, wat hom vir die afgelope tien jaar onder haar vlerk geneem het, het die begrafnisonder­nemer Vrydag­oggend benoud gebel om te vra watter klere Booysen nog laas aangehad het.

’n Omgekrapte Herbert vertel: “Sy liggaam kon nêrens opgespoor word nie.

“Hulle kon net die klere kry wat hy moes aantrek en sy naamkaartjie.

“Ons was al by die lykhuis om sy lyk tussen die ander lyke te soek.

“Ons moes noodgedwonge aangaan met die begrafnisdiens, want alles was klaar gereël.

“Ons moes ’n begrafnisdiens hou sonder ’n lyk en die lyk word steeds vermis.

“Hy was klaar so verlore in die Kaap en nou raak sy lyk ook nog weg.”

Volgens Herbert is Booysen oorspronklik van Noupoort by De Aar, maar het oor die jare van sy familie vervreem geraak.

Sy het hom 30 jaar gelede op ’n plaas in Koelenhof ontmoet.

Die afgelope tien jaar het Booysen by Herbert en haar familie in Ravensmead gewoon.

Herbert sê: “Hy was so lief vir die plaas en wou baie graag daar begrawe word.

“Soms het ek hom plaas toe geneem dat hy net daar tussen sy vriende kon ­kuier.

“Dit is baie vreemd dat sy lyk net so uit die lykhuis kon wegraak.”

Volgens Raymond Stemmet van Discreet Burial Society berg hulle hul lyke by ’n privaat lykhuis naby die lughawe.

Stemmet sê: “Ons het nog die 14de Junie laas sy (Booysen se) lyk hanteer.

“Vrydag toe ons sy lyk wou regkry vir die begrafnis, kon ons sy lyk nêrens kry nie.”

Volgens Jusuf Saayman, eienaar van die lykhuis waar Booysen se lyk geberg is, ondersoek hulle nog die voorval.

Hy het erken dat die lyk nog nie opgespoor is nie.

Bron:  Son


Enjoyed this post? Share it!

 
  • WALK

    VERY DISCREET INDEED