Begrotingsrede: Jan Alleman dok op vir tanende ANC-steun – Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het vandag, ná afloop van die Februarie-begrotingsrede, skerp kritiek op die ANC-regering se politieke beloftes gehad – beloftes wat nou in die nasionale begroting in ʼn groter mate deur die belastingbetaler gefinansier gaan word.

Volgens Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is minister Gordhan in ʼn onbenydenswaardige politieke posisie. “Nie net is minister Gordhan in ʼn stryd om politieke oorlewing gewikkel nie, maar sy taak om die harde realiteite van die huidige swak groeikoers en belemmerende beleidsomgewing met toenemende politieke beloftes te balanseer, is ʼn bykans onbegonne taak,” het Van Onselen gesê.

Van Onselen verduidelik dat die huidige binnegevegte en die dalende steun van die regerende party in die munisipale verkiesings ʼn tweeledige krisis veroorsaak: “Die gevolg is dat die regering al hoe meer beloftes maak en klaarblyklik glo dat hierdie beloftes slegs bewerkstellig kan word deur die produktiewe private ekonomie met skadelike beleid lam te lê.”

In sy Februarie 2016-Begrotingsrede het minister Gordhan homself tot verskeie beleidshervormings verbind wat daarop gemik is om ekonomiese groei te stimuleer. Van die hervormings, soos sosio-ekonomiese impakstudies van nuwe wetgewing, ingrepe by staatsondernemings en besnoeiings op rompslomp, het nie daarin geslaag om die ekonomie na wense om te keer nie.

“Die huidige begroting is ʼn voortsetting van beloftes wat die plaaslike ekonomie eenvoudig nie kan bekostig nie. Volgens die begroting sal besteding op die hoofbegroting in FJ2017 tot R1,31 duisend miljard toeneem. Teen byna 30% van BBP slurp staatsbesteding eenvoudig te veel van die plaaslike ekonomie op. Verdere druk op ʼn oorbelaste belastingbasis is eenvoudig onverantwoordelik,” het Van Onselen gesê.

Volgens Van Onselen is daadwerklike vryemarkhervormings en deregulasie tesame met ʼn werklike afskaling van staatsbesteding dringend nodig. “Die sogenaamde hervormings wat in die huidige begroting aangekondig is, ruim nie die kernprobleem van skadelike beleid, oorregulasie en ʼn openbare sektor wat ʼn te groot aandeel in die ekonomie opeis, uit die weg nie,” het Van Onselen verduidelik.

“Die SNI koester nie hoë verwagtinge wat die tesourie se voorgenome hervormings betref nie, aangesien die positiewe voorstelle wat in die verlede gemaak is, nie deurgevoer is nie: Krisisse by van die groot staatsinstellings is nie weerlê nie; ʼn reeds uitdagende arbeidsomgewing is deur verdere inmengingsbeleid, soos die nasionale minimum loon, bemoeilik; en vereistes verbonde aan regulasies wat verband hou met swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie het nie verminder nie, maar het eerder verskerp,” het Van Onselen benadruk.

Van Onselen stel voorts dat die tyd aangebreek het om die belangrikheid van ware deregulasie en daadwerklike inkorting van staatsbesteding te besef. Verder moet die daad by die woord gevoeg word om staatsdepartemente, -instellings en -ondernemings wat belastinggeld verkwis en swak diens lewer, tot verantwoording te roep.

“Ten spyte van die ANC-regering se inmengingsbeleidsrigting, glo die SNI dat ʼn ekonomies innoverende en welvarende Suid-Afrika moontlik is. Indien die tesourie staatsbesteding werklik inkort en swak beleid hersien word, kan hulpbronne, private belegging en ondernemerskap ontsluit word wat tot ʼn hoër groeikoers en beter ekonomiese vooruitsigte vir mense in Suid-Afrika sal lei,” het Van Onselen gesê.


Enjoyed this post? Share it!