Beheerliggame skuif kantlyn toe

Die finale besluit oor waar Gautengse kinders skoolgaan, is nou in die hande van die
provinsiale departement van onderwys en die LUR.
Nie jy, of die skool van jou keuse, het meer die laaste sê nie.
Die konstitusionele hof het gister uitspraak gelewer in die saak tussen die Federasie
van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die departement van
onderwys in Gauteng.
Die hof het in die guns van die departement en Panyaza Lesufi, LUR, beslis in hul geskil
oor die magte van ’n beheerliggaam ten opsigte van skooltoelating.
Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het die eenparige uitspraak, sy laaste voor sy
uittrede, voorgelees.
Die hof moes beslis oor die geldigheid van die wysigings wat Lesufi aan die reëls vir
toegang tot openbare skole in Gauteng aangebring het.
Die regters het beslis die aanpassings wat in 2011 in die Gautengse onderwysreëls in ’n
konsepwet voorgestel is, is “rasioneel, redelik en verdedigbaar”.
Fedsas het onder meer aangevoer dat Lesufi met dié wysigings die magte van die
beheerliggame wegneem en dat die bestrede reëls “nie redelik of verdedigbaar” is nie.
Die hof het Lesufi opdrag gegee om binne 12 maande die “voedingsones” vir skole te
bepaal.
Moseneke het gesê dit is reg dat ’n skool se toelatingsbeleid onderhewig is aan die
toepaslike provinsiale wet.
Skole kan wel hul toelatingsbeleid aanpas sodat dit hul leerlinge se belange dien.
Dit is “heeltemal in orde” dat ’n skool daarna streef om ’n sentrum van uitnemendheid te
wees met “skitterende” uitslae en ander goeie uitkomste.
“Maar openbare skole is nie veredelde ruimtes wat net vir skerp, goed gemanierde en
welgestelde leerlinge bedoel is nie. Hulle is openbare bates wat nie net die eng belange
van hul onmiddellike leerlinge moet bevorder nie, maar daar mag kragtens wetgewing
ook van hulle vereis word om te help om universele en nie-diskriminerende toegang tot
onderwys te verskaf.”
Volgens Moseneke moet die plig by die LUR berus om leerlinge te plaas wat nie plek in
skole gekry het nie. Die LUR moet ook “seker maak dat daar genoeg plekke in skole is
sodat elke kind skool toe kan gaan”.
Die hoof van die onderwysdepartement sal bepaal wanneer ’n skool vol is en nie die
beheerliggaam nie.
 
Bron – Beeld

Enjoyed this post? Share it!