Bejaarde Boer laat plaasaanvaller sy graf sien

‘n Bejaarde boer wat paraat was, kon ‘n aanval van vier potensiële moordenaars afweer.

Die sewentigjarige boer van Brandfort in die Vrystaat, was self gewapen toe die vier op hom losgetrek en op hom begin skiet het. Hy het aan die anderkant van die voertuig uitgerol en een van die vier aanvallers geskiet. Dié is op die toneel dood. Die ander lafaards het gevlug maar is later in hegtenis geneem deur die polisie.

Die aanvallers was tussen 26 en 40 jaar oud en was klaarblyklik gewapen. Die oorlewendes sal later in die hof verskyn.

Volgens TLU SA se databasis was hierdie die 23ste plaasaanval vir Augustus waarvan hulle bewus is. Twee mense is op plase vermoor in die maand. Verlede jaar Augustus was daar in totaal 13 plaasaanvalle.

Tot dusver hierdie jaar, was daar 228 plaasaanvalle waarin 46 mense vermoor is, teenoor 170 aanvalle met 37 mense dood in dieselfde tydperk verlede jaar. “Dit is duidelik dat die aanslag op ons plase verhewig met die geweldige toename in aanvalle. Dit is al byna ‘n oorlogsituasie,” sê TLU SA se adjunk-president en voorsitter van die veiligheidskomitee. “Dit wys hoe noodsaaklik dit is dat boere paraat moet wees, hulleself moet beveilig en weet wat om te doen, soos in die geval van die boer in Brandfort. As ‘n boer weet wat om te doen, word die rolle omgeruil en is dit die aanvallers wat aan die kortste ent trek. Dit is presies wat moet gebeur,” sê mnr. Geldenhuys.

Bron: Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!