Bejaarde egpaar in huis oorval

plaashekBejaarde egpaar in huis oorval
Deur Desirée Rorke
’n Bejaarde egpaar is oorval en in hul huis beroof deur ’n man wat by hul voordeur vir kos kom bedel het.
Die voorval verlede Donderdagoggend was die tweede aanval op bejaardes in Brackenfell in minder as ’n maand.
Die egpaar, in hul vroeë tagtigs, het op hul stoep gesit by hul huis in Proteahoogte toe die onbekende man hulle genader het.
“Hy het gesê hy is honger en het gevra vir kos. Die egpaar wat hulle oor hom ontferm het, is toe kombuis toe om vir hom ’n maaltyd voor te berei,” sê maj. Fienie Nimb, polisiewoordvoerder.
“Hulle het die voordeur se veiligheidshek gesluit, maar die sleutel in die slot gelos. Die verdagte het die huis binnegekom en die twee bejaardes in die slaapkamer ingeboender en die deur gesluit.”
Die rower het te voet gevlug met ’n selfoon, juweliersware en kontant.
’n Huiswerker het die bejaarde vrou se hulpkrete gehoor en die Brackenfell-polisie ontbied wat die bejaardes te hulp gesnel het.
Volgens maj. Nimb is albei die bejaardes lig beseer en is ’n ambulans ontbied om hul hospitaal toe te vervoer.
“Die verdagte was nie gewapen met enige gevaarlike voorwerp nie, maar dis duidelik dat die bejaardes baie hardhandig hanteer is,” sê Nimb.
Die polisie kon tot dusver nog nie ’n beskrywing van die man kry nie, buiten dat hy lank was en ’n rugsak gedra het.
Nimb doen ’n beroep op lede van die publiek, maar veral bejaardes om altyd waaksaam te wees. “Maak seker deure en veiligheidshekke is en bly deur die dag gesluit, en moet nooit die sleutels in die deur of naby die deur laat hang nie.”
Drie weke gelede is nog ’n bejaarde egpaar in hul huis in Ferndale oorval en aangerand toe ’n huisrower vermoedelik by ’n oop motorhuisdeur toegang tot die huis verkry het. Hy het ook te voet gevlug met juweliersware en kontant.
Nie een van die twee verdagtes is aangekeer nie.
Bron:Biz Afrika

Enjoyed this post? Share it!