Bejaarde egpaar van PE vasgebind, van R10 beroof

Rowers het ’n bejaarde man van Port Elizabeth vasgebind en sy beursie, waarin daar net R10 was, gesteel.

Die bejaarde man (85) en sy vrou is in die vroeë oggendure van Sondag deur twee onbekende mans in hul huis in Walmer, Vierde Laan, wakker gemaak.

Die twee onbekende mans het ’n skuifdeur van die huis oopgedwing.

Mense moet ook geen waardevolle items, wat sleutels insluit, op bedkassies of tafels los wanneer hulle die aand gaan slaap nie.

Nadat die rowers die man se beursie met die R10 gekry het, is die man en vrou vasgebind en in hul motor na die naaste kitsbank in Heughweg geneem.

Hier is die man losgemaak en die rowers het geld probeer onttrek.

Die rowers het te voet gevlug en die bejaarde egpaar in die motor agtergelaat toe hulle nie daarin kon slaag om geld te onttrek nie.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die rowers was nie gewapen nie, en die bejaarde egpaar is nie in die voorval beseer nie. Sy het wel bevestig die polisie ondersoek ’n saak van huisroof.

Die polisie het in reaksie op die voorval ook ’n beroep op bejaarde mense gedoen om hul sekuriteitsmaatreëls te verskerp deur ’n alarmstelsel by hul huis te installeer.

“Mense moet ook geen waardevolle items, wat sleutels insluit, op bedkassies of tafels los wanneer hulle die aand gaan slaap nie,” sê Naidu.

Die voorval kom slegs enkele maande ná die gru-aanval op ’n bejaarde paartjie van Schoenmakerskop in Port Elizabeth.

In dié voorval in September is Ken Alexander (76) bykans onherkenbaar vermink deurdat hy met ’n stomp voorwerp in sy gesig geslaan is. Hy is op die toneel dood.

Elaine Allwright (78), sy lewensmaat, is ook deur die rowers met ’n stomp voorwerp aangerand. Sy het later in ’n hospitaal beswyk.

Die polisie het twee mans weens dié moorde aangekeer.

In November is die lyke van die Saaiman-egpaar van Port Elizabeth in hul huis in Somerstrand aangetref.

André (65) en Lidia Saaiman (69) was albei met kabelbinders vasgebind en hul lyke het sowat ’n meter uitmekaar op die studeerkamer se vloer gelê.

André is met ’n byl oor sy kop geslaan, terwyl Lidia met ’n kabelbinder verwurg is.

Niemand was teen Maandag weens die Saaiman-moorde aangekeer nie en hul tuinwerker, wat in ’n woonwa op hul erf gewoon het, is steeds soek.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!