Bejaarde egpaar wreed aangeval en gemartel op kleinhoewe buite Potchefstroom

ʼn Bejaarde egpaar is Donderdagoggend kaal uitgetrek, aangerand en met kookwater en warm olie gebrand tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe buite Potchefstroom.

Kapt. Mvula Chaka, woordvoerder van die Potchefstroom-polisie, het aan Maroela Media gesê die egpaar is omstreeks 07:30 op ʼn kleinhoewe in die Haaskraal-omgewing oorval.

“Twee jong mans het voor die aanval toegang tot die perseel verkry en buite die huis gewag totdat iemand die agterdeur, wat gesluit was, oopgemaak het,” het Chaka gesê.

Chaka het gesê die huiseienaar, ʼn 75-jarige man, het die agterdeur oopgemaak, onwetend dat daar oortreders in die erf was. Die aanvallers het hom buite die huis oorweldig en met ʼn mes in sy regterhand gesteek. Hulle het hom daarna in die huis in gedwing waar hulle sy 74-jarige vrou aangetref het.

“Die mans het op die egpaar geskreeu, hulle aanhoudend aangerand en op kontant aangedring. Die egpaar het egter nie kontant by hulle gehad nie. Die egpaar is tydens die aanval kaal uitgetrek. Die mans het water gekook, olie warm gemaak en dit oor die egpaar gegooi. Hulle het ook plastiek aan die brand gesteek en op hulle gedrup.”

Die verdagtes het op vlug geslaan met ʼn rewolwer wat in die egpaar se kluis was en ʼn selfoon.

Chaka het gesê dit is nog nie duidelik wie hulp vir die slagoffers ontbied het nie, maar dit was vermoedelik familie wat daar naby bly.

Die polisie en ander rolspelers is omstreeks 08:30 na die toneel ontbied.

Die egpaar het onder meer erge brandwonde oor hul liggame opgedoen en is in ʼn bedenklike toestand na ʼn hospitaal in
Potchefstroom geneem.

Die Potchefstroom-polisie ondersoek die aanval. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!