Bejaarde Gamtoos inwoner word nog ‘n statistiek van misdaad in SA na geweldadige huisroof

’n Bloedspoor van haar huis na die teerpad het Donderdagmiddag verklap hoe ’n vrou helderoordag deur vier mans aangeval en beroof is.

Dié spoor is deur Wilna van Rooyen (66) gelaat nadat sy omstreeks 09:30 uit haar huis in Gamtoos, naby Jeffreysbaai, weggekom en om hulp gevra het.

Van Rooyen is deur vier mans oorval terwyl sy wasgoed opgehang het. Sy is met toue op haar bed vasgebind en haar eie rewolwer, wat uit haar besit geneem is, is teen haar kop gedruk voordat die rowers daarmee gevlug het. Sy is toegesluit in die huis agtergelaat.

Volgens Antoinette Gerber (43), Van Rooyen se huismaat, het die rowers Van Rooyen met ’n ysterpaal oor die kop geslaan en haar by die huis ingesleep.

“Dis net bloed waar jy kyk. Die bloedkol op die bed wys waar sy op die bed vasgemaak is,” het ’n geskokte Gerber gesê.

Die rowers het blykbaar al die huis se sleutels saamgevat en Van Rooyen binne toegesluit.

“Sy moes by die huis uitbreek, oor ’n heining spring en om hulp gaan soek. Ons bly redelik ver van enige bure af,” sê Gerber.

Dis net bloed waar jy kyk. Die bloedkol op die bed wys waar sy op die bed vasgemaak is.

Antoinette Gerber

Van Rooyen se kop was vol bloed en die eerste persoon wat verby haar gery het, het hulp aangebied. Sy is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.

Volgens Gerber het ’n onbekende man wat Donderdagoggend vroeg voor hul huis gestaan het, daartoe gelei dat Van Rooyen haar rewolwer uit die kluis gehaal het.

“Ek het die onbekende man voor ons huis sien staan. Toe hy praat, kon ek hoor hy is ’n buitelander en ek het niks verstaan wat hy sê nie.

“Ek het vir hom gesê hy moet liewers loop voordat ek die polisie bel,” sê Gerber.

Sy het ’n doktersafspraak gehad en Van Rooyen het alleen by die huis agtergebly.

“ ’n Uur of so nadat ek by die huis weg is, het ek ’n oproep ontvang om te sê Wilna is aangeval.

“En ek is amper seker dit is die man van vanoggend (Donderdag) wat met sy makkers teruggekom het. Hulle moes ons dopgehou het en gesien het ek ry.”

Gerber sê sy sal Vrydag ’n identikit van die man laat saamstel.

Volgens Van Rooyen het die vier mans in ’n donker voertuig, met iets wat soos ’n dieselenjin klink, gery.

Volgens Carl Thrams van Smhart Security was hul beamptes saam met die polisie op die toneel om na leidrade te soek.

Thrams sê hulle sal ná die voorval meer patrollievoertuie na die gebied stuur.

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof. Niemand is al aangekeer nie.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!