Bejaarde inwoner van Brenthurst word deur huisrowers aangerand: Sit op haar en dreig met mes

‘n Besoek aan die hospitaal het bevestig dat die bejaarde se stuitjie gebreek is en een van haar ribbebene gekraak is.

‘n 81-Jarige inwoner van Brenthurst is Vrydagmiddag ernstig beseer toe sy deur twee rowers in haar huis oorval is.
Sy is met ‘n mes teen haar keel gedreig en een van die rowers het deurentyd op haar gesit terwyl die ander een kosbare items uit die huis gedra het.

Die aanval op die weerlose vrou was so erg, dat dit haar met ‘n gebreekte stuitjie, ‘n gekraakte rib en kneusplekke reg oor haar liggaam gelaat het.

Volgens die vrou se dogter (55), het haar ma ongeveer 1.30nm na buite gegaan om die Herald, wat afgelewer was, te kry.

“My ma het by die voordeur gewag vir haar kleindogter (27) se kat om in te kom. Sy het gebuk om die kat op te tel en net toe sy die deur wou toemaak en sluit het die twee rowers toegeslaan,” het die dogter vertel.

Een van die booswigte het die bejaarde vrou hard teen die bors geslaan en sy het geval. Hy het ‘n mes te voorskyn gebring en dit teen haar keel gehou.

Sy is daarna na die kombuis geneem waar sy op die vloer neergegooi is.

Dit is hiér waar een van die mans op haar bly sit het, terwyl die ander een onder meer, ‘n televisiestel, kontant en juwele uit die huis geneem het.

Die rowers het daarna op die vlug geslaan.

“My ma is ‘n klein geboude vrou, wat geen kans sou gehad het om haarself teen die twee mans te kon beskerm nie,” het die dogter gesê.

‘n Besoek aan die hospitaal het bevestig dat die bejaarde se stuitjie gebreek is en een van haar ribbebene gekraak is.

Deur: Thelma Koorts/Brakpan Herald


Enjoyed this post? Share it!