Bejaarde man koelbloedig vermoor in Silverton

Die dogter van ’n 78-jarige man het Dinsdag op sy vasgebinde lyk met ’n reënjaskappie in sy keel afgedruk by hul huis in Silverton, Pretoria, afgekom.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, sê die dogter is Dinsdagoggend oudergewoonte werk toe. Sy het bekommerd geraak toe sy nie haar pa telefonies in die hande kon kry nie.

“Sy het omstreeks 11:00 huis toe gegaan en die huis in ’n chaotiese toestand gevind,” het Sepato gesê.

“Haar pa se lyk was in die tuin. Sy hande en voete was vasgebind en iemand het die kappie van ’n reënjas in sy keel afgedwing.”

Sepato het Dinsdagaand gesê hy is nog nie by magte om die slagoffer te identifiseer nie.

“Die polisie is voorlopig besig om ’n saak van moord en roof te ondersoek. Enigiemand met inligting oor die tragiese voorval word gevra om die Silverton-polisiekantoor te kontak,” het Sepato gesê.

Die polisiê sê in die stadium lyk dit of ’n skootrekenaar en ’n selfoon uit die huis in Jasmynlaan in Silverton gesteel is.

Sepato wou homself nie oor die moontlike oorsaak van die man se dood uitlaat nie en het gesê dit sal deur ’n lykskouing bepaal moet word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!