Bejaarde vrou van Stellenbosch in plaashuis aangeval, honde doodgesteek

Haar ma se aanvallers het haar vermoedelik ingewag.

Só het Marlene Botha van Durbanville Maandag gesê nadat haar ma, Susan Joubert (87), Sondag kort ná 16:30 deur vermoedelik drie of vier aanvallers in haar huis op die plaas Aan-Den-Weg, buite Stellenbosch, aangeval en van haar besittings beroof is.

Haar ma se twee honde is deur die rowers doodgesteek.

Aan-Den-Weg is ’n bekende roos- en wynplaas sowat 10 km buite Stellenbosch.

Susan Joubert wat Sondag by haar huis op die plaas Aan-Den-Weg, buite Stellenbosch, aangeval en beroof is.

Botha sê dat haar ma Sondagmiddag by haar en haar gesin in Durbanville geëet het. Sy is kort ná 16:00 by Botha se huis weg en het kort ná 16:30 by haar huis op die plaas aangekom.

Volgens Botha het haar ma haar outomatiese motorhuisdeur oopgemaak en by die motorhuis ingetrek.

“Ek is nie heeltemal seker nie, maar drie of vier mans het kort voordat die motorhuisdeur toegemaak het, die motorhuis binnegekom.”

Sy sê hulle het haar ma uit haar motor gepluk en haar met kabelbinders vasgebind. “Hulle het my ma se hande en arms baie seergemaak soos hulle dit geruk en pluk het om haar armbande en ringe af te kry.”

Botha sê haar ma woon alleen in haar huis op die plaas. Haar broer Nicky Joubert en sy gesin, wat ’n hanetree van hul ma op die plaas woon, het Sondag gesien toe sy by die huis aankom. “My broer hou altyd ’n ogie oor my ma.” Sy sê haar ma se huisalarm het afgegaan.

Nicky is glo onmiddellik na sy ma se huis. “Hy het gelukkig sleutels vir die huis. Hy het oopgesluit en my ma vasgebind gekry.”

Botha sê sy weet nie waar in die huis haar broer haar ma gevind het nie, maar toe sy op die plaas kom, het haar ma in die kombuis gelê.

“My ma is baie getraumatiseerd. Veral ook omdat haar geliefde honde so wreed doodgemaak is.”

Sy sê haar broer het dadelik hul sekerheidsdiens en sy vyf ander sibbe laat kom. Die polisie was ook gou op die toneel. “Hulle het vingerafdrukke in die huis geneem.”

Volgens Botha is haar ma se handsak met haar kaarte en identiteitsdokument ook gesteel.

“My ma is nog in die hospitaal,” sê Botha.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!